Kaalvoet in Europa.

Aapstreke agter pa se rug.

Heelparty mense het hulle bedenkings gehad toe hulle hoor daar gaan met kleuters getoer word in London en Parys.  (zander sal baie ongekrap wees om `n kleuter genoem te word.. ;-))

Sekerlik ook nie ongeregverdig nie – twee Suid-afrikaanse kleutertjies wat gewoond is aan boomklim, swem en heelwat ruimte , in ‘n hotelkamer in ‘n groot metropool soos London met sy menigte mense.  En daarby nog kleuters wat, soos dit maar hier by ons gaan, gewoond is om orals rond gekarwei  te word in ‘n  motor.   Om van openbare vervoer hier gebruik te maak is mos maar ‘n mite vir baie van ons.

En tipiese Afrikaanse kindertjies wat kaalvoet skooltoe gaan, het die skoene plek-plek gewaai, ja selfs in London en Parys en is daar meestal kaalvoet geloop.

Maar wonder bo wonder was die toer  ‘n groot sukses.  ‘n Mens moet  net vrede maak met die feit dat jy heel eerste aan hulle behoeftes moet voldoen, dus dinge doen en plekke besoek waarin hulle belangstel.

London

Vervoer

Vlieg direk na jou bestemming, in ons geval, London. 

Die Midde-Oosterse lugdienste soos Emirates is miskien goedkoper as British Airways of Virgin Airlines wat direk van die Kaap,  Johannesburg of Durban na London toe vlieg, maar glo my, mens wil regtig nie in die middel van die nag met moeë kleuters vir ‘n paar uur op Dubai of Doha se lughawens sit en wag vir ‘n aansluitingsvlug London toe nie.

Die direkte vlugte vertrek gewoonlik in die aand.  ‘n Lekker aandete aan boord, ‘n bietjie TV kyk en dan rustig slaap tot die vliegtuig vroegoggend, so 6 30, land op Heathrow.

Verblyf

Die sukses van toer met kleuters hang baie af van die geskiktheid van jou  verblyf vir hulle en hulle eiesoortige behoeftes. 

Vir ‘n besoek aan London kan mens beswaarlik ‘n beter keuse doen as om ‘n gesinskamer te bepreek by een van die menigte hotelle (in verskillende prysklasse), om Russel Square.

Russell Square se moltreinstasie is boonop deel van die Picadillyroete wat direk van Heathrowlughawe na London toe loop.

Belangrik ook om te weet  dat daar by Russell Square ‘n lieflike, ruim park is met baie bome om in te klim, ‘n fontein om in te speel  en genoeg  duiwe is om te jaag.

Dus die ideale plek  vir klein Suid-Afrikanertjies.

Kos

As kinders honger is, dan soek hulle kos, nie netnou nie, maar dadelik!  Mens koop dus maar wegneemetes by die naaste plek he he.

Eienaardig genoeg is die wegneemkos in Brittanje  van ‘n baie hoër standaard as dié in Frankryk, die sogenaamde kos-mekka van die wêreld.  Veral die kos in die museums is van hoogstaande gehalte.  Baie lekker en gesond.

Dinosaurusgeraamte.

Geskikte besienswaardighede in London om te besoek met kleuters

“Hop on, hop off” busdiens

Die, sg. “Hop on, hop off” dubbeldekker busse wat d.m.v  ‘n verskeidenheid roetes toegang tot al die interessante  Londonse besienswaardighede bied, is ‘n uitstekende opsie met kleuters. 

Om bo-op die oop bus te sit en met oorfone na lopende kommentaar (in Engels), te luister, was ‘n wenner.  Suid-Afrikaanse kinders verstaan mos maar almal deesdae van babatyd af al Engels, al is hul huistaal ook Afrikaans.

Die buskaartjie sluit ook ‘n bootrit op die Teemsrivier  na Greenwich in.

Natural History Museum

Zander, ons seuntjie van ses, is van babatyd af al versot op alles wat met dinosaurusse te doen het.  Hy ken al die name, waar hulle voorgekom het, wat hulle geëet het  en hul gewoontes, op die punte van sy vingers. 

Die “ Natural History Museum” in London, was dus nommer een op ons lys van besienswaardighede om te besoek.  Sy sussie, Mila (4), het dit darem net so geniet, veral die bewegende T-rex model.

Die museums in London is gratis, so dis beter om liewer meer as een keer ‘n spesifieke museum te besoek, as om te lank op een slag daar tyd te probeer spandeer.

Britse Museum.

Britse Museum

Die Britse Museum is letterlik net om die draai van Russell Square af, net so vyf minute se stap soontoe.

Ons wou baie graag die Egiptiese versameling vir die kleuters te gaan wys – Zander het egter vasgesteek en wou glad nie naby die versameling kom nie- bang vir die mummies.  Sy sussie, egter, was in vervoering en het na alles gekyk (en geen nagmerries gekry nie).  (Die uwe het ook maar weggebly – die mummies “freak” my heeltemal uit).

Ek dink die res van die museum se versameling, is dalk nog bo kleuters se vuurmaakplek.

Londonse Dieretuin

Ideale plek om kinders na te neem wanneer die pa hulle vir ‘n paar ure alleen besig hou omdat ma en ouma by Heston Blumenthal se restaurant “The Fat Duck”, buite London gaan eet het.  Volgens die kleuters se pa, is die dieretuin in Pretoria enige tyd net so goed soos dié van London, hoewel die twee klein Kapenaartjies dit baie geniet het.

Londonse mooi parke

Probleme

Reuse borrels op Trafalgar Square.
  • London is mos maar ‘n groot stad met baie inwoners en toeriste.  Sondae is dus baie besige dae op die moltrein, en by die museums.  Laat middag, so ‘n uur of twee voor die museums sluit, en natuurlik ook weeksdae, blyk die beste en stilste opsie te wees .
  • London se parke is pragtig, veral plekke soos St Jamespark naby Buckinghampaleis, en ideaal vir ‘n piekniek en vir kleuters om in rond te hardloop.  Dis belangrik om hulle genoeg vrye speeltyd toe te laat en nie van hulle te verwag om die hele dag besienswaardighede te besoek nie.

Disneyland by Parys.

Ons het net so vier dae in London spandeer,  voor ons met die Eurostar na Disneyland naby Parys vertrek het.

Skoonseun noem Disneyland ‘n “Kiddiecasino” – alles ingestel om kinders te vermaak (en die ouers te laat betaal ) :0)

‘n Droomwêreld vir kinders waar hulle al hulle Disneykarakters kan ontmoet en hulle fantasiëe uitleef. 

“Google” dit maar self.

Parys

Laatmiddag bootrit op die Seine.

Nog ‘n vreeslike besige metropool.

  • Eiffeltoring

Die kinders wou vreeslik graag die Eiffeltoring sien. 

Met eeue oue, pragtige skaduryke bome rondom die toring was dit nie ‘n probleem om die kinders soontoe te neem nie, selfs op ‘n warm Saterdagmiddag nie. 

Toring-op met kleintjies, gaan egter beslis ‘n problem wees – ellelange toue want dit wemel van toeriste.

‘n Wonderlike uitstappie egter was ‘n laatmiddag boottoer op die Seine (en ‘n glasie chardonnay daarby vir die grootmense).  Die vertrekkaai vir die boot is naby die toring.

Versailles

Met kinders en al het ons Versailles besoek! 

Nie eintlik aan te bevole om dit op ‘n Sondag gedurende ‘n hittegolf te doen met derduisende toeriste wat dieselfde plan het nie, maar op die ou einde het ons tog alles daar gesien wat ons wou sien – die paleis, die lieflike tuine, alles.  

Maar wees gewaarsku, sulke tye ry kiddies maar op pa en ma se skouers - dis darem ver vir klein mensies om te moet loop van die stasie af (so 10 minute se stap), en in die paleis en tuine rond.

Belangrik om orals met jou saam te karwei, is genoeg drinkwater en iets vir die kiddies om aan te knaag.

Die beste plan om die verskriklike lang ry voor Versailles te vermy is om aanlyn kaartjies voor die tyd te koop. Jy kan `n goedkoper kaartjie koop vir die paleis vir `n spesifieke tyd bv. 13:00-14:00 dan kry jy toegang vanaf 12:30 en mis die lang tou mense.

Sulke kietsregop boompies met min skaduwee in die hitte
Bootrit op die meer by Versailles.
Wag vir die trein na 'n laaang dag in die son.

Parys se parke

Na ‘n besige (en snikhete), besoek aan Versailles op ‘n Sondag, het ons die kinders net park toe geneem op die Maandag en hulle toegelaat  om na hartelus rond te hardloop en te baljaar.

Vervolg by "Kaalvoet in Europa :-"

Write a new comment: (Click here)

SimpleSite.com
Characters left: 160
DONE Sending...
See all comments

| Reply

Latest comments

30.08 | 12:44

It seems really a nice sharing due to its informative stuff which I will share with my dad after my https://www.goldenbustours.com/seattle-tour-packages/

...
06.05 | 19:10

...
05.05 | 20:47

Het baie geniet. Dankie.Tuinmaak my passie. Meestal onbekende musiek vir my, maar pragtig.

...
07.04 | 20:46

Hi Nalene, watter datums het jy 'n probleem mee. Dié van Dr Nel van Heerden? Madelie

...
You liked this page