Na die heerlike botterbroodjies en tee, enige tyd net so lekker soos dié wat ons die volgende dag by ‘n namiddagtee in die Savoy Hotel geëet het, val ons toe in die pad na Nottinghill se antieke-en vlooimarkte.
By die
eerste plek waar die uwe iets wou koop en betaal, was die kontaklyne met die banke egter foutief en hulle wou dus nie ‘n kaartbetaling aanvaar nie, en soos dit maar gaan het ek toe net Skotse ponde in my beursie oor. Heeltemal wederegtelik,
weier die winkel ook die Skotse ponde. Renée bied toe aan om te kyk of sy nie dalk nog ‘n Britse twintig pondnoot in haar beursie het nie, net om te ontdek dat die beursie verdwyn het, met sy inhoud van meer as R2 000 se waarde , hoofsaaklik
in Skotse ponde. Hoe verlore voel mens tog nie sulke tye nie!
Soos Renée nou maar is, het sy eers die terugslag maar gelate aanvaar, met die hoop dat die persoon wat die beursie gesteel het die geld regtig nodig gehad het om
kos en ander noodsaaklikhede te koop. Die moltrein op pad na Oxfordstraat was immers baie vol, ons moes staan en dit was maar ‘n gestamp, ‘n gestoot en ‘n gestoei, en dis heelwaarskynlik ook net toe dat die beursie gesteel is.
Maar, ons besluit om darem tog maar op ons spore terug te loop en te kyk of ons iets kry.
Terug by die Heilsleer, is dit tyd vir middagete – ‘n ellelange tou by die kafeteria wat wag om bedien te word. Renée val toe maar
in die tou en die uwe ontdek toe dat daar net langsaan ‘n groot saal is waar die Heilsleer se nasionale orkes besig was met ‘n etensuurkonsert. Nou kyk, as ‘n blaasorkes goed is, kom min dinge daar naby – klokhelder, suiwer en silweragtige
klanke so strelend soos fluweel. Fenomenaal! Was verstom oor hoe goed hulle is.
En Renée? Toe sy uiteindelik by die toonbank kom, en begin beduie hoe die beursie lyk, en die woord Skotse ponde noem, gaan daar onmiddellik
‘n lig op by die vrou agter die toonbank – ja, iemand het so ‘n beursie gekry en ingehandig, sy gaan dit dadelik by die bestuurder afhaal.
En nie ‘n enkele sent was weg nie!
Wat sê ‘n mens tog van so
iets?
Ons het al wat ‘n kollektebussie is volgemaak en ontdek toe ook die Heilsleer se interessante boekwinkel met lieflike kersornamente, boeke en CD’s te koop. Renée het amper haar hele meevallertjie net
daar geblaas en ekself het die mooiste kersornamente gekoop – Joseph, Maria en die Christuskind in die krip – met die hand gesny van olyfhout uit Bethlehem (die Heilsleer sal nie jok nie).
EN toe ons uitloop sien ons eers die spreuk raak
wat hoog teen die muur in die gang geverf is:”The Lord has been faithful throughout the generations”.