Nuwe WTC bedek met wolke
Geen mens behoort New York te besoek sonder om ook ‘n draai by “Ground Zero”, die plek waar die World Trade Centre (WTC) eens gestaan het, te maak nie.
Dit hele tragedie is steeds vir my so half ‘n persoonlike belewenis.
Al was ek nie daar nie, het ek letterlik die hele tragedie lewendig op TV sien afspeel.
Die middag van 11 September 2001, net voor ek sou huis toe ry, skakel my vriendin Julie, en sê ek moet bietjie op TV kyk as ek by die huis kom, want sy sien
op die internet dat daar ‘n vliegtuigie in die World Trade Centre vasgevlieg het. Ons woon mos darem immers naby die kantoor.
By die huis gekom sit ek die TV aan, net om te sien hoe die tweede vliegtuig in die Suid-toring vasvlieg.
Van daar af die hele verskrikking meegemaak, gesien toe die torings val en al die ellende wat daarmee gepaard gegaan het.
Eerste gewaarwordinge
My eerste gewaarwording toe ons op die terrein
kom, was dat daar nie veel te sien is nie – die plek is dan so “leeg”…
My broer Stephan wat Ground Zero ‘n paar jaar gelede besoek het, sê hy het dieselfde gevoel gekry, tot hy in die eerste gedenkpoel kyk
en besef dat dit eintlik presies is waaroor dit gaan – daar is nie veel te sien nie, want waar eens die twee reuse toringgeboue van 110 verdiepings elk gestaan het, is daar letterlik nie ‘n klippie van oor nie.
DIT RUK MENS NOGAL.
Die oggend toe ek en Susan, my dogter, daar kom, was die weer miserabel, yskoud, met ‘n motrëentjie en wind. Toe ons so opkyk na die nuwe WTC, ook 110 verdiepings soos sy voorgangers, besef ons toe regtig eers hoe hoog die torings werklik
was - die bo-punt van die gebou was letterlik onder die wolke.
Op die presiese buitelynafmetings van die ou torings, uitgegrawe tot op die bodem, is twee gedenkpoele met watervalletjies opgerig met die name van die oorledenes in die tragedie op die
buitelyne in koper uitgegraveer.
Meer as 3000 name.