Die uwe was van kleins af baie lief vir die water - dis nou om te swem. Ons het 'n paar erwe aanmekaar gehad op Jacobsdal met 'n regte windpomp en dam.
Was daar al ooit iets lekkerder as om aan die pyp te hang en die skoon, skoon boorgat
water te drink terwyl dit in die dam inloop?
Bootritte het ons as kind nie eintlik geken nie, behalwe vakansietye op Mosselbaai 'n rit om Robbe eiland of by Knysna na die Heads.
Die Rietrivier by Jabobsdal is nou nie eintlik wat 'n mens
'n bevaarbare rivier sal noem nie, en die Eersterivier by Stellenbosch, waar ons later gewoon het, nog minder.
Toe ek dus die eerste keer die Teems sien, my eerste aanblik van 'n groot rivier, was dit liefde met die eerste oogopslag.
Elke keer wat ek in London kom, gaan ek so gou as moontlik na die Teems toe om te groet, en voor ek vertrek, weer so.
Die Teems is darem mos immers een van die groot liefdes in my lewe :0)
Die laaste paar jaar kon ek darem 'n wonderlike paar
bootreise meemaak.