Oud en antiek

Kinders bly darem maar interessante kreatuurtjies.  Selfs op ‘n baie jong ouderdom kan ‘n mens soms al sien waarin hulle as volwassenes gaan belangstel.  My boetie, Stephan, en ek was van kleins af behep met ougoed – ou huise, ou meubels, ou gebruiksvoorwerpe en ou mense en die stories wat hulle kan vertel.  EN  vandag so ‘n paar dekades (‘n hele paar eintlik hmm), is dit nog steeds so.

 

Ouma Malie se riempiesbank, nog in ons besit. Sy het die bank toegemessel in 'n gang toe sy vermoed haar huis gaan afgebrand word.

 

Ons ouma wat reg deur die Engelse Oorlog voor die kakies uitgevlug het en nooit  gevang is nie, en ons ander oupa se pragtige ou huis en meubels uit die bloeitydperk van die volstruisbedryf, het dit sekerlik aangehelp. 

Oupa se huis by Hazenjacht, tussen De Rust en Oudtshoorn.

Jacobsdal

Jacobsdal se geskiedkundige ou kerk.

Jacobsdal, die dorpie in die Vrystaat waar ons groot geword het, was die ideale teelaarde vir sulke belangstellings.  Al was dit dekades na die Engelse Oorlog toe ons daar gebly het, was daar nog heelwat oudstryders oor in die gemeenskap, asook persone wat as kind die verskrikking van die konsentrasiekampe deurgemaak het.   Daarby was ons dorpie die eerste wat deur die kakies ingeval is.  Dit is gelukkig nie heeltemal vernietig soos van die ander Vrystaatse dorpies nie, en daar was nog heelwat huise oor wat voor die oorlog gebou is.

Die kakiekamp was blykbaar in die koppies agter ons huis, want selfs dekades na die oorlog was die terrein nog besaai met boeliebiefblikkies.   Ons het selfs  ou knope en doppies en ongebruikte patrone daar opgetel. 

En Magersfontein was soos die kraai vlieg ook nie ver van Jacobsdal nie.  Ons kon destyds nog vry op die slagveld rondloop en bomskerwe optel.  Die geel lidietmerke van die kanonkoëels  was nog op die ysterklippe te sien en die loopgrawe was ook nog duidelik sigbaar.

Omdat ons ‘n pragtige tuin gehad het met lieflike snyblomme, was dit op ‘n stadium Saterdagmiddae my en Stephan se werkie om blomme na die bejaardes in die dorp te neem.  Ons was gek daarna om met hulle te gesels en na die pragtige ou meubels en gebruiksvoorwerpe in hulle huise te kyk.

Afrikaanse Kultuur en Volkskunde

Eerste finalejaars in 1969. Prof Bun is voor links en die bekende kinderboekskrywer, Pieter W Grobbelaar, regs. Hy het die kursus saam met ons voltooi. Die uwe is agter in die middel.

Op universiteit was die uwe dus in die wolke toe ek so gelukkig was om toegelaat te word om musiek  as eerstejaar op Stellenbosch te kombineer met Afrikaanse Kultuur en Volkskunde.  Dit was ‘n splinternuwe kursus aangebied deur die beminde professor Bun Booyens.  Ons was die eerste finalejaarklas wat die kursus voltooi het.  Ek dink die kursus is later omskep in Museumkunde.

Prof Bun was ’n belewenis, soos die Ingelse sê, ‘n “one man show”.    Hy het alles wat hy kon prakties gedemonstreer, soos die knie van brood.  Ook die huilebalke wat toe die Kaap nog jonk was, gehuur is om by begrafnisse te huil en te treur.  Nogal ‘n goeie vertoning gewees.   

In die kursus het ons nie net die Afrikaanse volksgeskiedenis behandel nie, maar ook die gebruike, gewoontes, meubelering en so aan van die stamlande soos Nederland gedurende die 17 eeu.  Het jy bv geweet dat tee lank voor koffie aan die Kaap gedrink is?  Jip, die drink van die “boeretroos” het heelwat later eers in die mode gekom en die drink van tee was dus nie regtig ‘n slegte “Engelse” gewoonte nie.

Een van die belangrikste goed egter wat die kursus ons egter geleer het, was om waar te neem.  Nie net fyn na goed te kyk nie, maar dit regtig raak te sien en te bestudeer – huise, meubels, porselein, enige gebruiksvoorwerp. 

Kyk byvoorbeeld na programme soos die “Antiques Roadshow”.  Wanneer die kenners ‘n artikel evalueer, beskryf hulle eers presies in detail wat hulle voor hulle sien,  voordat hulle ‘n prys daaraan heg.  Wat ‘n wonderlike program, so ook “Bargain hunt” – ‘n mens leer soveel !  'n Gratis universiteit.

"Bargain hunt" en die "Antiques Roadshow"

 

Hierdie programme, is deesdae van die min programme op TV waar ‘n mens voel dat dit jou kennis verbreed en darem iets om die lyf het.  Hoekom die “History Channel”, so genoem word, weet geen mens nie, want daar word deesdae alles behalwe geskiedenis daarop gewys. 

Ons kursus op universiteit het, wat die stoflike aspekte aan betref, natuurlik gefokus op ou Kaapse meubels, gebruiksvoorwerpe en boustyle.

Deur bogenoemde programme slaafs te volg, het ekself vir die eerste keer regtig ontwerperstyle soos ‘art nouveau” en ‘art deco “ leer ken en waardeer.

 

 

"Art nouveau" - 1890 tot so 1910

Kyk net na die pragtige artikels en tëeltjies hier onder in die "art nouveau" styl, met sy kenmerkende sagte, vloeiende lyne.

Hierdie styl was baie gewild vanaf 1890 tot so met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog.

Toe ek so in standerd een was, is ons pa op 'n stadium in die ou hospitaal op Kimberley opgeneem.  Elke kamer het destyds 'n kaggel gehad en ek kan nou nog onthou met watter lieflike tëels, soortgelyk as dié hier onder, die kaggels uitgevoer was.

 

Kyk 'n slag in jou huis rond

Gaan soek nou bietjie in jou huis rond, veral as jy breekware en so aan by 'n ouma geëerf het.  Jy sal verbaas wees wat jy ontdek.

Ek was seker daar is op aarde niks in ons huis met die kenmerkende "art nouveau" stylfigure nie, tot ek mooi begin rondkyk het.  Kyk dan nou net so...

Motief op 'n houtrakkie. By skoonma gëerf.
Tëel, in koperharnas gemonteer met hakies.London gekoop
Koper planthouer. Antiekemark gekoop.
Melkbeker met geskiedenis. Kyk onder "Engelse oorlog"

"Art deco" - tussen die twee Wêreld oorloë

Empire Stategebou, New York. Voltooi in 1931.

Die "Empire Stategebou" was nog altyd vir my pragtig. Maar, dit was eers, danksy die "Antiques Roadshow" dat ek besef het dis eintlik die harde, strak lyne van "art deco" wat so aantreklik is.

Nog 'n mooi voorbeeld is die "Oxo"toring in London.  Gebou in die laat twintigs, wou die Londonse stadsraad nie toelaat dat die Oxo-naam van die maatskappy op die gebou aangebring word nie.  Die argitek het toe doodgewoon net besluit om met die O en die X motief rond te speel en geen haan kon daaroor kraai nie.

Die OXO-toring in London.

Maar Suid-Afrika het darem self van die ongelooflikste "art deco"-geboue.  Mens kan jou letterlik  langs Durban se strandfront en die straatjie langs die hawe af, vergaap aan die pragtige goed.

Kyk ook bietjie rond in jou eie stad of dorp.  Dis baie keer die ou bankgeboue en ou flieks wat sulke goeie voorbeelde van die deco-styl is.  Die koperplaatjies rondom die hyserknoppies, of die ligteskakelaars, die toonbanke, horlosies, traprëelings, vloere, ou hysers.

Deco geboue in Durban.

Maar deco-meubels was net so gewild in ons kinderjare, voor dit vervang is met bal-en-klou en linnevoue in imbuia.

Kon darem weer 'n paar deco artikels in ons huis opspoor.  Hoewel net breekware, niks meubels.

Maar horlosies, skinkborde en selfs juwele in hierdie styl is nog algemeen te sien.

Duitse WMJ melkbekertjie.
Royal Doultonbakkie uit 1931.
Teepotjie uit die dertigerjare.
Zander se stoeltjie. Dit is baie swaar, so dalk van tambotie gemaak.

'n Item word gewoonlik as 'n antiek beskou wanneer dit so 'n honderd jaar oud is, so 'art deco" voorwerpe het nog ;n paar jaar om te gaan - die antieke van die toekoms.

Vir my is daar niks lekkerder as om in winkeltjies met ou goed (collectables), rond te skrop nie en dan oor die goedjies wat ek koop op te lees nie.

Ek koop ook van nou af liewer vir die kleinkinders antieke goedjies soos hierdie stoeltjie eerder as speelgoed.  Dit kos maar net soveel soos 'n goeie Fisher Price speelding en het baie meer intrinsieke waarde.

EN as hulle groot is en nie daarin belangstel nie, is dit ook goed - hulle kan dit gaan verkwansel en die geld nuttig gebruik vir iets waarvan hulle hou he he.

En wat is nou eintlik die "moral of the story"?

Kyk 'n slag weer met 'n fyn oog na die goeters in jou huis, maar moenie net kyk nie, sien raak, bestudeer dit, en 'n hele nuwe wêreld sal vir jou oopgaan.

Write a new comment: (Click here)

SimpleSite.com
Characters left: 160
DONE Sending...
See all comments

| Reply

Latest comments

06.05 | 19:10

...
05.05 | 20:47

Het baie geniet. Dankie.Tuinmaak my passie. Meestal onbekende musiek vir my, maar pragtig.

...
07.04 | 20:46

Hi Nalene, watter datums het jy 'n probleem mee. Dié van Dr Nel van Heerden? Madelie

...
07.04 | 09:09

Kan iemand dalk sê die datums klop nie... Die datums wat op foto's is en die ouderdom wat sy behoort te wees, werk nie lekker saam nie. Kan iemand dalk help?

...
You liked this page