 |
 |
|
 |
 |
Wildtuin toe
Soos dit vir my lyk, kry mens twee soorte mense - wildtuinmense en seemense. Maar daar's 'n verskil, die wildtuinmense gaan ook graag see toe, maar die seemense is letterlik wat die woord sê, "Seemense" , en is heel tevrede
om net na die branders te kyk - bos toe is nie vir hulle nie. Trouens, ek ken heelwat mense wat in Pretoria gebore en groot geword het, en nog nooit in die Wildtuin was nie. Stel glad nie belang nie. My eie drie broers woon almal langs die
see, was al een of twee keer in die Wildtuin, maar dis dit. Tevrede om net na die branders te kyk - verlang niks na die bos nie. MAAR, vir ons Wildtuinmense is dit anders. As die dae begin korter word en die eerste byt verskyn
in die lug, dan is dit asof 'n oeroue drang in mens begin woel, iets wat aanhou karring en byt, totdat daar planne gemaak word om bos toe te gaan - Wildtuin toe.
Waar bly mens?
Daar bestaan 'n mite dat 'n mens altyd maande of selfs 'n jaar vooruit moet bespreek om plek te kry. Dit is seker so as jy gedurende die winterskoolvakansie of vir 'n langnaweek wil gaan, maar ons kry sommer 'n bevlieging om te
gaan en het nog altyd sommer 'n week of so voor die tyd gaan bespreek en tog plek gekry. Nou nie noodwendig by mens se gunstelingkampe nie, maar darem iewers vir die paar dae wat jy wil bos toe breek. Dit help seker dat ons
graag die Noordelike deel van die Park besoek - nie so vol soos die Suidelike kampe nader aan Gauteng nie. Vir my is die heel mooiste kamp Mopanie, een van die nuwer plekke. Veral vanaf einde Julie, na die skoolvakansie
en gedurende Augustus/September, wanneer die mopanies se herfskleure begin wys - lieflik! Enige tyd net so mooi soos Kanada in die herfs. Daarby is daar nog 'n paar kremetartbome ook in die kamp, en die mooiste dam... Van die hutte kyk
reg op die water - seker die naaste wat mens aan die hemel kan kom op aarde.
Treinbrug by Skukuza.
Ander kampe soos Letaba, Olifantskamp en Skukuza bly darem ook maar gunstelinge. Sien baie mense kla dat Skukuza deesdae te bedrywing is, maar vir my het hy sy eie bekoring. Al ooit vroeg opgestaan, koffie gemaak en na die sonsopgang gaaan
kyk by die restaurant? Gee my hoenderveis net om daaraan te dink. My niggie Annetjie, kampeer weer bitter graag. Stokalleen sal sy haar tentjie opslaan, 'n eie vleisie braai in die aand en doodgelukkig haar tyd spandeer om veral voëls
te kyk. Die uwe, weer, issie meer lus vir die ablusieblokding nie - op die stadium in my lewe verkies ek maar 'n rondawel met 'n ou geriefie binnekant. Gladnie bang om vroeoggend stoksielalleen in London se strate rond te
dwaal nie, maar dis darem al of daar 'n paar vurige oë is wat mens koekeloer as dit donker is in die Park.
Familie rituele
Skukuza se winkel
Praat bietjie met getroue Wildtuingangers, en jy kom gou agter dat elke familie sy eie Wildtuinroetine het waaraan hulle jaar na jaar vasklou. Dit begin baie keer al by die huis - bakkies met vleis word gepak en gevries, spesiale Wildtuinklere
word uitgepak en daar word op 'n sekere tyd gery, by sekere plekke gestop en by 'n spesifieke hek by die Park ingegaan. Sommige families vlieg elke oggend dou voor dag op om, na koffie en beskuit, uit te ry as die kamp se hekke oopmaak.
Teetyd word daar dan vir 'n laat ontbyt gebraai by piekniekplekke soos Tshokwane en Afsaal.
Onse Wildtuintafeldoekie - jare gelede gekoop by Tshokwane.
Ons weer, ry graag douvoordag hier weg sodat ons so vroeg as moontlik in die Park kan kom. Ontbyt is forelpasteitjies by Millies, en daar word ook altyd by 'n stalletjie langs die pad gestop vir vars vrugte en neute.
By die rondawel aangekom, word die Wildtuintafeldoekie heel eerste uitgehaal en oorgegooi. Dan weet ons ons is tuis. Ons doen nie elke dag die vroegopstaan ding nie. Weet mens sien glo die mooiste "catches" vroegoggend en laatmiddag by
die watergate, maar wil regtig nie self 'n "catch" sien nie. Weet dit gebeur, die roofdiere moet tog ook eet, maar soos die Engelse spreekwoord lui: "Ignorance is bliss" - wil dit nie sien gebeur nie!
Wat een mens?
Polonietjoutjou
Meeste besoekers braai elke aand - sodra hulle terug is in die kamp word die vure aangesteek. Met ons eerste besoek aan die Kamp met ons twee klein kindertjies, het ons toe ook nou maar elke aand gebraai, maar so na die derde aand weier die twee
toe om hulle mond aan braaivleis te sit - sê hulle soek ma se "lekker" kossies. Op daardie stadium was hulle gunstelingdis Polonietjoutjou. Braai twee uie en roer dan 'n rolletjie Franse polonie in blokkies gesny by. Maak intussen vir
elke persoon 'n aartappel gaar en sny in blokkies. Voeg by die uie en polonie en geur met wat ook al byderhand is - tamatiesous, blatjang en sout en peper. Die resep werk net so goed met sardyne in tamatiesous. MAAR, ek twyfel of een van die twee deesdae hulle mond aan die tjoutjou sal sit he he.
Selati Restaurant, Skukuza
Deesdae lewe ons omtrent net van brood, kaas, biltong en die heerlike tropiese vrugte wat mens by die Wildtuin rond kry vir aandete en ontbyt, en bedags eet ons maar iets in die kampe. Vandat die Spur die restaurante oorgeneem het, het die diens
en die verskeidenheid disse beskikbaar aansienlik verbeter, en is die personeel ook vir 'n slag ordentlik opgelei. EN toe maar, die restaurantjies het nie name soos Oohoopooho Spur nie - die name pas steeds by die Park. Op Skukuza moet mens
darem nie die kans laat verbygaan om by Selati te gaan eet nie. Dis 'n restaurant gelëe in die ou stasiegebou op Skukuza - met trein op die perron en al. Elke keer wat ons daar kom dink ek aan my ma, wat as jong onderwyseressie 'n skoolgroep
van Riversdale na die Park gebring het per trein. Moes nogal opwindend gewees het om destyds met die trein tot binne in die Park te kon ry.
Wat sien mens alles?
Daar is soveel om te sien, nie net die groot vyf nie, maar die plantegroei, bome, klein diertjies en dan natuurlik die ongelooflike voëllewe. En elke keer, met elke besoek, het daar nog iets gebeur wat uitstaan: ons het een
keer op 'n hele paar bromvoëls afgekom wat sit en bromsing in droë bome langs die pad, by Skukuza het 'n klein suikerbekkie ("hummingbird"), reg voor my aan 'n aalwynblom kom drink, by Olifantskamp het 'n baba hiëna in die middel van
die pad kom lê en slaap, by Tshokwane weer het 'n klein eekhorinkie 'n stukkie pasteitjie van my vurk af gesteel - dit gebeur net. By elke besoek is daar die iets anders om wat gebeur om te onthou, iets wat jou weer en weer
te wil laat teruggaan.
Of om 'n spul aasvoëls dop te hou
Of wat op aarde kan mooier wees as die verlate roep van 'n visarend
Of as jy te veel Wildtuin toe verlang en net nie daar kan uitkom nie, dan help die tegnologie. Kliek op die skakel - dit maak oop by lewendige kameras in die veld in van ons parke. Laat jou sommer deel van die veld voel. http://www.sanparks.co.za/webcams/cams.php?cam=satara
|
|
 |
|
|
|