Fieterjasies met vis

Visgeregte

Stokvis gerol in meel en eier en dan in vlak olie gebak - heerlik!

Al ooit vars galjoen geëet vir ontbyt?  Nie?  Mens, dan het jy nog nie vis geproe nie!

By die vakansieplek van ons kinderjare, Glentana, was vis volop.  My pa en boeties het gereeld voor ontbyt 'n paar galjoene en 'n kabeljou of twee uitgetrek.  Mamma het dit dan vir ontbyt voorberei - net in meel en dan in geklitste eier gerol en in vlak olie gebak.  Niks souse en bierbeslag en krummels en speserye en kruie en al die fieterjasies waarmee vis deesdae gedokter word nie.  Net die basiese was nodig.

Maar, ek is bevrees, tye het seker verander.

'n Plek soos Engeland, wat mos darem nou beskou word as die bakermat van "fish and chips", is 'n voorbeeld.  Die eerste dag wat ek en Susan daar was, besluit ons dis tyd om die vis en skyfies waaroor hulle so "brag" uit te probeer by 'n tradisionele pub.  Wat 'n teleurstelling, die porsies was so groot 'n mens kon 'n hele rugbyspan daarmee kosgee, en die bierbeslag om die vis so dik soos jou dikste winter wolkombers.

Ook hier by ons, is die restaurante geneig om alle vis te wil doodgooi met beslag en souse en krummels en so aan. 

Daar is darem uitsonderinge ook:  Mosselbaai se hawekafee - heerlik, RItrovo hier in Pretoria maak die heerlikste ingevoerde "seabass".  En moet nie die Ocean Basket vergeet nie.  Mens weet presies wat jy gaan kry en hoe dit gaan lyk, maar dan weet jy ten minste dit gaan LEKKER wees.  En kyk net hoe eenvoudig word dit gaargemaak.  Probeer bietjie hulle "OB Special", 'n tipe varswatervis, Parnassius of ook Basa genoem, maar ongelooflik sappig en sag, die lekkerste lekker!

Hou ook 'n bietjie die sogenaamde "celebrity chefs"  op TV dop - hulle vis word net gegeur en dan in olie en botter gebak - nikse fieterjasies vir hulle nie.

JA, sê jy, maar hier in die binneland kry mens nie vars vis van gehalte nie, bevrore vis is maar jou voorland en mens moet dit maar dokter om dit na na iets te laat smaak. 

Moenie glo nie.  Hier in Pretoria, ver van die viswaters, kry ons heerlike vars vis te koop by die Hyperama en Checkers en so aan - nie eers nodig om na 'n deli toe te gaan nie.  EN WAT MEER IS, dis goedkoper as die bevrore vis in beslag of krummels wat al vir maande lank in die vrieskaste lê.

Ja, dis reg - gaan kyk maar, ek kon dit ook eers nie glo nie.  Vars stokvis, ruim porsies vir vier persone teen minder as R70,00, en selfs vars geelstert - 500g teen minder as R50,00. 

EN rol dit dan net in meel en eier en BAK! 

Ocean Basket se "OB Special", teen R47,00. Koningskos!
Het hierdie vars geelstert by die Hyperama gekoop vir R47,00. In meel en eier gerol, in vlak olie gebak en "voila", KONINGSKOS.

Gerookte forelpannekoekies

As jy nou die dag wil uithang, met 'n voorgereg of so aan:  bak 'n paar pannekoekies en vul dit met gerookte forel of salm en maaskaas gemeng met 'n opgekapte dourissie (peppadew) of twee.  Heerlik en daarby nog gesond ook.

Salmbroodjies. Lagie salm, lagie fynbiltong en botter, basiliepesto of blaarslaai, lagie kaas en botter. Heerlik.

Write a new comment: (Click here)

SimpleSite.com
Characters left: 160
DONE Sending...
See all comments

| Reply

Latest comments

30.08 | 12:44

It seems really a nice sharing due to its informative stuff which I will share with my dad after my https://www.goldenbustours.com/seattle-tour-packages/

...
06.05 | 19:10

...
05.05 | 20:47

Het baie geniet. Dankie.Tuinmaak my passie. Meestal onbekende musiek vir my, maar pragtig.

...
07.04 | 20:46

Hi Nalene, watter datums het jy 'n probleem mee. Dié van Dr Nel van Heerden? Madelie

...
You liked this page