Modes en kos

Met modes, hetsy kos of klere,  gaan dit mos maar so – alles wat nou is, verdwyn, net om later weer terug te kom, dikwels darem in ‘n ietwat ander gewaad.

Neem nou maar die minirok van die sestigerjare.  Dit het nie so lank geneem voor dit terug in die mode was nie, behalwe natuurlik dat die hedendaagse mini’s baie meer ordentliker is as dié wat ons op universiteit gedra het.  Mmm .

Vir my nog altyd ironies dat die owerhede op die kampus geen probleem met ons kort-kort rokkies gehad het nie, maar jy moes dit tog nou net nie waag  om met ‘n langbroek by die koshuis uit te loop nie – dit was ‘n groot “no no”, en ‘n sonde waarvoor al wat ‘n dominees is, vir jou vinger gewys het.

Braai en wyn

Die tamatieslaai van ons kinderdae

Om te braai is deesdae groot – nasionale braaidae word gehou en mens kry selfs chefs wat hulle hoofsaaklik op braai toespits.  ‘n Belangrike deel van ons erfenis oor geslagte heen. 

BEHALWE dat ons geslag se ouers nooit gebraai het in die huis toe ons klein was nie.  Het nou al by ‘n paar tydgenote uitgevind.  Hulle stem saam.  As ons ouers mense vir ete genooi het, was dit ‘n properse gekookte ete met aartappels, rys en vleis, twee groentes, slaai en poeding. 

Soveel so dus vir die “erfenis”-ding.

Nou moet ek darem noem dat daar op Jacobsdal altyd met basaars en sportbyeenkomste grooot gebraai is,  maar gesinne wat elke naweek en vakansiedae gebraai het, was onbekend.

Mengelslaaie was  heeltemal onbekend, dit was tamatie-of beet- of wortelslaai, net met blaarslaai daarby, maar die deurmekaar mengelslaai met olywe en feta en soetrissies en so aan was total onbekend . 

 Skaapboud was goedkoop, maar hoender was soos my ma gesê het, net vir “high days and holidays” – Kersfees en verjaarsdae.  Selfs in die koshuis het ons soms in die middel van die week skaapboud gekry, en hoender net vir spesiale geleenthede.

 

Die hendendaagse immergewilde bobotie en malvapoeding het ons Vrystaters ook nie geken nie.  Beide disse is seker maar van Kaapse oorsprong.

 

 

Bobotie met geelrys
Malvapoeding

By die etes , selfs met Kersfees, is daar ook geen wyn bedien nie, miskien so nou en dan ‘n vingerhoedvol  “nagmaalwyn”, maar dit was dit.  In elk geval vir die Vrystaat.  Stel jou dus voor hoe ons letterlik ons hande  saamgeslaan het van skok (toe ons Stellenbosch toe getrek het) en daar op die kerkbasaar van die Moederkerk, van alle dinge, ‘n WYNSTALLETJIE was.   Dit was ongehoord vir ons Vrystaters, maar algemeen in die Boland.  Die Van Blommesteins , ou vriende van my ouers op Stellenbosch, het ons byvoorbeeld gereeld laatmiddag Sondae genooi vir ‘n glasie soetwyn – heerlik in die Bolandse koue.

Ons gesin het eers wyn aan tafel begin drink nadat Pieter en Alf Stellenbosch toe is om te studeer en toe gereeld van Simondium se soet  jerepigo saamgebring het.  LEKKKER.

Hierdie twee het ook met ons gesin se braai opvoeding begin.  

Hulle het naamlik vanaf Stellenbosch een vakansie ‘n “Swanniebraai” saamgebring.  Wat ’n wonderlike kontrepsie is dit tog nie, maar kyk self op die videogreep.  Mens kry dit blykbaar nog steeds te koop, maar die kontrepsie behoort regtig beter bemark te word– goedkoop en doeltreffend.  EN ideaal vir gou ‘n worsie of broodjie braai met beurtkrag.  Mens gebruik net opgerolde koerantpapier - geen hout of houtskool.

Mongoolse braai

Uit die gebraaiery het later ook ander modes ontstaan – potjiekos, ook eers onbekend en ook die sg “Mongoolse” roerbraai, waar die kos uitgestal word en elke persoon dan sy eie ete saamstel en braai.  Meeste mans wat ek ken, het dit gehaat soos die pes.  Ek hoor nog my broers brom: “Hoekom mens nooi vir ete as jy jou eie kos moet gaarmaak”!

Deesdae kry ‘n mens ook allerhande ingewikkelde braaiers – binne-braaiers, waar die hoogte van die rooster gestel kan word volgens die tipe vleis wat jy wil braai.  My broer Alf het dit vervolmaak – behoort sy weergawe te patenteer.

Potjiekos weer, is ‘n vakgebied op sy eie, en het op ‘n stadium groot kompetisie gekry van die ketelbraaiers (Webers).  Maar verbeel ek my of word ketels al hoe minder gebruik deesdae?

Kaas en wyn onthale

"n Kaas en wyn onthaal

Ek kan regtig nie onthou of die owerhede daarvan geweet het nie, hulle moes seker, maar ons het baie kaas en wyn mondigwordingspartytjies in die koshuis op universiteit gehou.  Darem doodonskuldig – niemand het ooit dronk geword daarvan nie, en dit was net ons klomp pelle, geen man naby nie.

Hierdie tipe onthaal was ook baie gewild vir troues.  Ons was destyds nog nie so grend dat ons derduisende aan huweliksonthale spandeer het nie.  Baie min aandtroues, meestal vroegmiddag met die onthaal in die  kerksaal met die ACVV of  VLV  wat “gecater” het.  Soet-en southappies met koffie en tee en een rondte sjampanje om die heildronk mee in te stel.

EN ons het dit net so geniet soos deesdae se “uithang- affêres”  wat baie mense letterlik in die skuld dompel.

Onthaal vir baie mense

Paella.

Ons tannie, Ellen, was ‘n huishoudkunde onderwyseres by La Rochelle in die Paarl, en moes dus dikwels vir groot klompe mense kos maak.  Paella was die oplossing, en later natuurlik ook lasagne en kerrie en rys wat nog steeds gewild is.

Deftige etes

Vir Kersfees en deftige etes is daar gestolde slaaie gemaak – beet, pynappel en so aan, en alles is gegarneer met radysrosies  of rosies van lemoenskil .  Daar is letterlik kursusse aangebied en boeke geskryf oor die maak van hierdie tipe kosversierings!

Gestolde wortelslaai.
Radysrosies vir garnering

Retro

Rëenboogtoebroodjies

Soos sit maar met modes gaan, kom baie van die ou goed weer terug , gewoonlik darem in ‘n ietwat ander  baadjie.  

Fondues wat so gewild was in ons jongdae, word deesdae veral vir nagereg gebruik, om malvalekkers, aarbeie en so aan in sjokolade te doop.

Rëenboogtoebroodjies is ook weer groot nuus, maar ipv plat snytjies word dit in kwarte gesny – vreeslik mooi.

Toe ons verlede jaar Engeland besoek het, was dit baie gewild, so ook “Coronation chicken”.  Laasgenoemde is ‘n gereg wat skynbaar vir Koningin Elizabeth se kroning hier in 1953/1954 ontwikkel  is. 

Ons het dit soms as dis op die spyskaart gesien, maar dit is veral gewild as vulsel in toebroodjies.

Maar ek het darem nog nie weer ‘n radysrosie raakgeloop nie!

Rëenboog toebroodjies
Fondue
"Coronation chicken"

Uiteet

"Mixed grill" oftewel die allegaardjie. Jak, maar dis vetterig!

Toe ons klein was, het uiteet meestal bestaan uit botterbroodjies by plekke soos Garlicks, en etes in hotelle.  Daar was baie min restaurante beskikbaar. 

Uiteet in die Kaap vir ons jongklomp was gewoonlik ‘n “mixed grill” (allegaartjie) op die stasie. 

Net na universiteit, nadat ons Pretoria toe verhuis het, was daar ewe skielik ‘n ontploffing van nuwe restaurante soos “Steak Houses”, Chinese eetplekke en so aan. 

By so 'n "Steakhouse", het ek persoonlik toe vir die eerste keer in my lewe ‘n “T-bone steak” geëet.  My ma was nie lief vir beesvleis nie en het dit selde gemaak, maar ek dink tog “T-bones” was nog onbekend.

Pizzas was iets waarvan jy in “comics” gelees het – Little Lotta wat so versot was daarop.  Ons kinders was byvoorbeeld al gebore toe die eerste Pizzaplek in Pretoria geopen het.

“Hotdogs” en “Hamburgers” was ook onbekend.  Was al op hoërskool op Stellenbosch toe ek dit die eerste keer geëet het.

Dis darem interessant om te sien hoe ons etery en eetgewoontes met die jare verander het.

EN dan dink ons nou nog nie eers aan die mensdom wat deesdae so oploop raak met Tim Noakes en sy “banting” nie, of aan "Nouveau cuisine", se min maar grend, nie.

Nouveau cuisine, min, maar grend.

Write a new comment: (Click here)

SimpleSite.com
Characters left: 160
DONE Sending...
See all comments

| Reply

Latest comments

30.08 | 12:44

It seems really a nice sharing due to its informative stuff which I will share with my dad after my https://www.goldenbustours.com/seattle-tour-packages/

...
06.05 | 19:10

...
05.05 | 20:47

Het baie geniet. Dankie.Tuinmaak my passie. Meestal onbekende musiek vir my, maar pragtig.

...
07.04 | 20:46

Hi Nalene, watter datums het jy 'n probleem mee. Dié van Dr Nel van Heerden? Madelie

...
You liked this page