Lest we forget...

Op pad

“War is probably the most uncivilised act of man”, dis nou volgens die bekende Britse joernalis Charles Moore.  Maar, enige persoon wat al self die slagvelde en begraafplase van so ‘n oorlog gesien het, sal nie anders kan as om met hom saam te stem nie. 

Op pad

Renée, haar man, Chris en ek het gedurende Oktober die slagvelde van die eerste Wêreldoorlog in die Somme in Frankryk besoek.  Ons het saam met ‘n georganiseerde toergeselskap van Great Railway Journeys gereis en by King’s Cross stasie in London by die groep aangesluit om met die Eurostartrein onder die see deur na die Somme te reis.

Ons het op die spesifieke toer besluit omdat dit gekonsentreer het op die rol wat die destydse dominiums, dis nou Australië, Nieu-Zeeland, Suid-Afrika en Kanada gedurende die oorlog gespeel het.  Ons drie was egter die enigste nie-Britte op die toer.        

 

Die Somme en Arras

Arras

Ons groep het by die stadjie Arras tuisgegaan. Dis ‘n pragtige middeleeuse plek wat byna heeltemal gedurende die oorlog platgeskiet is, want Arras het sentraal tot die oorlogsfront gestaan.  Meeste van die geboue moes heropgebou word na die oorlog, volgens die oorspronklike planne, maar met die binnekant gemoderniseer.

Die toerleier het sy huiswerk goed gedoen en baie interessante inligting oor die lewe van die soldate aan die front gegee.

Die lewe in die loopgrawe

Loopgraaf nog duidelik te sien.

Die veld in die Somme bestaan meestal uit plat grasvelde waar soldate baie blootgestel is.  Die tegniek om die soldate in loopgrawe te versteek, is dus (aan beide kante) gebruik.

Na’n honderd jaar is die loopgrawe op baie plekke nog steeds te sien.  Anders as in Flanders, waar van die ou slagvelde as landbougrond gebruik kon word, is groot dele van die land in die Somme so geskend dat dit net so gelos is om self te rehabiliteer.

Interessant van die loopgrawe is dat dit in ‘n sig-sag vorm gebou is, met plankvloere waar moontlik. 

Hierdie loopgrawe het oor baie kilometers die oorlogsfront gevorm met niemandsland vol doringdraad en myne, tussenin.

Hoekom is loopgrawe gebruik? Dan Snow van die BBC verduidelik.

Doringdraad hindernisse

Hierdie hindernisse is gebruik om die loopgrawe te beveilig teen bajonet aanvalle.  Ook in niemandsland.

Dan Snow van die BBC oor doringdraad hindernisse.

Die soldate se dieet

Ons gids was baie geinteresseerd in die sosiale omstandighede waaronder die soldate hulle bevind het en kon onderhoudend vertel van die alledaagse lewe aan die front.

Baie van die Britse soldate is, veral aan die begin van die oorlog, beter gevoed as tuis.  Vleis elke dag, sopies rum en so aan wat hulle tuis nie kon bekostig het nie.

 

 

Soldate se dieet
Die uitrusting wat heeldag saamgedra moes word
Die oorlog in kleur - baie skaars beeldmateriaal

Delvillebos - Suid-Afrika raak betrokke

Delvillebos na die slag.

“I have many times asked myself whether there can be more potent advocates of peace upon earth through the years to come than this massed multitude of silent witnesses to the desolation of war..”

King George V, Flanders, 1922.

Dit het niks gehelp nie - skaars twintig jaar nadat hy die aanmerking gemaak het, was die wêreld weer aan die oorlog maak.

Kliek op die skakel en lees meer oor Suid-Afrika se deelname aan die oorlog en die slag van Delvillebos.

http://www.delvillewood.com/premiereguerre2.htm

 

Delvillebos vandag. Pragtige beeldmateriaal. Jammer dis in Frans.
Die terrein behoort aan Suid-Afrika. Die boom met die heining om is die enigste uit die oorspronklike bos wat bly staan het. Akkers vanaf Franschhoek is op die terrein geplant.

Die kruis wat huil.

In Pietermaritzburg is 'n kruis wat van hout uit Delvillebos gemaak is.  Die kruis begin 'n stroop afgee wat aan trane herinner so om en by die herdenkingsdag van Delvillebos. 

Tot dusver is daar geen verklaring voor nie. 

Kliek op die skakel om meer daaroor te lees.

http://www.news24.com/SouthAfrica/News/Weeping-cross-still-a-mystery-20040709

Die oorlog kom huis toe

George Adamson Deas.

‘n Nefie van ons ouma, George Adamson Deas, seun van William Deas, een van die bekende wa-makers van Oudtshoorn, en sy vrou Agnes, is op die ouderdom van 24 aan kopwonde oorlede.  Hy was ‘n swaar- artillerie kanonnier. 

Ek wou dus baie graag sy graf besoek, ook aangesien die Achiet le Grandbegraafplaas waar hy begrawe is, net so 17km vanaf Arras gelëe is. 

Die toerleier het toe gerëel dat ‘n Franse vrou my soontoe neem.  Op ‘n koue, winderige en rëenerige dag is ons toe na die dorpie Achiet toe om die graf te soek.

Achiet le Grand Communal Cemetery Extension
Wat 'n eensame plek is dit nie.
Christoffel Johannes Smith van Winterton, Kimberley. 19 jaar oud.

Achiet le Grand, het bekend gestaan as ‘n CCS, ‘n “casualty clearing station”.  Gewondes is vanaf die slagveld hierheen afgevoer vir noodbehandeling en dan uitgeplaas na hospitale. 

Volgens sy doodsertifikaat is George dus hier oorlede voordat hy hospitaal toe gestuur kon word.  In die begraafplaas is daar so 1 400 soldate begrawe, waarvan net ‘n paar Suid-Afrikaners was.

Die Franse vrou het in die motor gewag en ek was die enigste lewende wese in die hele begraafplaas.  Het George se graf maklik gekry.  Dit ruk mens nogal om die bekende van te sien en te besef dis jou vlees en bloed wat daar lê, so ver van sy land af in die vreemde. 

Ewe skielik het die oorlog tuis gekom. 

Het ‘n sakkie met Suid-Afrikaanse grond saamgeneem en dit op sy graf gestrooi, en twee rooi poppies ingeplant.  Iets trek my toe na die ry grafte net agter syne en ek kom daar op ‘n graffie af van C J Smith, ook ‘n Suid-Afrikaner.  Hy was maar 19 toe hy dood is.  Sien toe onder op die grafsteen is daar iets in Afrikaans gegraveer.  Moes letterlik met die plant baklei om dit te kon lees: ”Dickie, Mamma se kind, dankie dat jy vir jou land gesterf het.”  Het toe ‘n bietjie grondjies gaan terugkrabbel by George en een van die rooi poppies by Dickie ingeplant.

Dit was net te veel vir vlees en bloed alleen in die verlate plek - die Franse vrou moes net troos.

Terug in Pretoria het ek toe bietjie navorsing gedoen oor Dickie: Christoffel Johannes Smith, seun van Jurgens en Judith Susanna Smith van Riverton, Kimberley.        

Achiet le Petit
Ander ma's het ook oor hulle kinders getreur.

Oorheersende indrukke

"n Krater wat deur 'n myn veroorsaak is - sowat 40m diep

Wat my altyd sal bybly, is die absolute verlatenheid en stilte van die Somme se slagvelde en begraafplase.

By Delvillebos het die gras weer gegroei en die bome is groot, maar daar is geen energie in die lug nie - 'n absolute stilte heers - geen voëls wat sing, niks insekte nie.  NIKS. 

Net die stilte en die eensaamheid.

En dis Christenmense wat dit aan mekaar gedoen het! 

Die CP Nel Museum op Oudtshoorn het vir my hierdie foto van George Adamson Deas gestuur. Hy was glo langer as 2 m en 'n besondere goeie rugbyspeler - baie lank en sterk, maar blitsvinnig. Is op skool al gekies om vir die SWD te speel teen die Britse Toerspan.
Gedenkteken by Oudtshoorn Boy's High School, ter ere van oud-leerlinge wat in die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het.

David Schalk Ulundi Ross

David se grafsteen in Die Heudicourt Communal Cemetery in Frankryk.

David is skynbaar gedurende Januarie 1904 in Durban gebore, die seun van 'n C G Ross, 'n Skot en Sarah, 'n Afrikaanse vrou.  Sy pa se adres word egter as Arcida Mansions in Johannesburg aangegee as naasbestaande, maar David en sy jonger boetie het in Durban by hul ma gewoon.  Sy ouers was dus moontlik geskei.

Hy het dan ook in Durban aangeteken as soldaat in die Tweede Regiment en sy ouderdom aangegee as 18 jaar en ses maande, hoewel sy werklike ouderdom op daardie stadium slegs 13 jaar was.  Hy het egter duidelik die dokter wat hom ondersoek het oortuig dat hy 18 was, met sy borsmaat van 38 duim, en lengte van 5 vt 7 7/8 duim.  Sy hare was swart, met 'n blasserige vel en blou oë.

In September 1917 kom hy toe by die front in die Ypres-sektor aan, net om binne vyf minute na die begin van sy eerste skermutseling met die vyand, so 'n ernstige besering aan sy linkerbeen op te doen dat hy vir rehabilitasie na 'n hospitaal in Brittanje gestuur is.

Vanaf die hospitaal stuur hy vir sy ma ' n poskaart warin hy onder andere noem dat hy 14 sjielings per week van sy loon aan haar en sy boetie afstaan.

Sy moes dus geweet het waar hy was en dis vreemd dat sy nie moeite gedoen het om hom te laat terugstuur na Suid-Afrika nie.

Teen Februarie 1918 herstel David sodanig van sy wonde dat hy weer kon teruggaan na die front, hierdie keer by Gauche Wood.  Op 23 Maart word hy egter so ernstig beseer dat sy makkers hom op  die slagveld laat toe hulle terugtrek uit die woud.

Hy is toe deur die Duitse magte gevange geneem en sterf dus as 'n krygsgevangene op 25 Maart.

WAT SOU DIE KIND TOG BESIEL HET? 

Vir meer inligting oor David Ross, kan die volgende publikasie geraadpleeg word:

"Cameos of the Western Front: Ypres 1914 - 1918", deur Tony Spagnoly en Ted Smith.

Write a new comment: (Click here)

SimpleSite.com
Characters left: 160
DONE Sending...
See all comments

| Reply

Latest comments

06.05 | 19:10

...
05.05 | 20:47

Het baie geniet. Dankie.Tuinmaak my passie. Meestal onbekende musiek vir my, maar pragtig.

...
07.04 | 20:46

Hi Nalene, watter datums het jy 'n probleem mee. Dié van Dr Nel van Heerden? Madelie

...
07.04 | 09:09

Kan iemand dalk sê die datums klop nie... Die datums wat op foto's is en die ouderdom wat sy behoort te wees, werk nie lekker saam nie. Kan iemand dalk help?

...
You liked this page