'n Ietwat motgevrete Madelie by Chopin se graf. Hy is in 1849 oorlede.
Gelëe teen 'n baie styl heuwel in Parys, is daar die eeue oue begraafplaas, die Pere Lachaise. Toe Renée en ek hoor Chopin, Rossini, Edith Piaf, Oscar Wilde, Callas en so aan is daar begrawe, moes ons opsluit soontoe.
Op 'n yskoue, winderige en rëenerige dag durf ons toe die Metro (moltrein) aan om ons na Pere Lachaise toe te neem.
Rye en rye stokoue grafkelders waarin familielede tot vandag toe nog begrawe word. Een stel trap na die
ander die hoogtes in. Tipies Frans heers daar by die indeling van die grafte in "divisions", die gewone wanorde. "Division" vyf is reg langs 31 en vier kan dan weer so 'n paar 100 meter verder met die bult op wees.
Maar niks hiervan het ons gepla nie, ons was gedetermineerd om Chopin se graf te kry en na 'n ure lange soektog in die wanorde, uiteindelik sukses!
In Pere Lachaise is dit die gewoonte om in plaas van blomme, 'n potplant soos 'n
aster te koop om langs die graf te sit. Omdat mens darem vir Chopin net die beste moet gee, koop ek toe een in 'n terra cotta houer en moes maar swaar dra al aan die een kant tot ons by die graf uitgekom het. Dit het naderhand gevoel
of ek langer na sy graf gesoek het as wat ek ooit aan een van sy werke geoefen het!
Maar, al die gespartel in die koue weer was die moeite werd.