Die Blue Crane is letterlik in die hartjie van Pretoria gelëe langs die Austin Roberts Voëlpark. As mens vroeg in die oggend verby die park ry, staan daar dikwels bokkies en wei en dit doen mens se siel goed om so iets
te beleef voor die gesleur van die elke dagse bestaan begin!
Die restaurant is onlangs opgeknap. Die stoep is toegebou, maar met groot oopskuif vensters kan die water en watervoëls dus deesdae self op die koudste en warmste dae geniet word.
Daar is ook ‘n skuiling gebou vanwaar die watervoëls dopgehou kan word. Dis natuurlik baie gewild by fotograwe.
Die Crane bied Sondae ‘n buffetete aan. Goeie waarde vir geld, maar bespreek vroeg, veral as
jy ‘n venstertafel met ‘n mooi uitsig soek. Vrydagmiddagete is veral gewild, wanneer baie besigheidsmense daar eet (terwyl die arme staatsamptenare moet werk, sug).
Die restaurant self is groot en kan heelwat gaste huisves. Omdat
dit aan die agterkant langs die trimpark gelëe is, is daar ook baie veilige parkering – dis regtig ver van ‘n lawaai en mens kan nie glo dis binne vyf minute se ry van die malspul van Sunnyside af nie.
As jy lief is vir mengeldrankies
(cocktails), gaan jy ver soek na ‘n mooier plek om die sonsondergang te aanskou terwyl jy aan jou pina colada teug.
Die kos self is heerlik. Toe ons verlede week daar was, het Pieter ‘n goed gaar hamburger bestel.
Die vleisie wat toe vir hom opgedis is het meer na ‘n bief tartare getrek, maar hy het dit nogtans met smaak verorber – groot kompliment vir die chef! Die burger is op ‘n paninibroodjie met gekaramelliseerde uie, klein tamatietjies
en ‘n sny Camembert bedien. Tuisgesnyde, krakerige aartappelskyfies het die gereg afgerond.
Die kelners is vriendelik en goed opgelei en die bediening flink.
Kliek op die skakel om die Crane se webwerf self te besoek,
hulle gee selfs die spyskaarte met die pryse aan. Puik plek!
Gelukkige mense, ons Pretorianers.
http://www.bluecranerestaurant.co.za/