Hier in die Noorde is die winters maar baie droog en hard, en sukkel die arme voëls om te oorleef - min natuurlike voedsel beskikbaar. Hulle waardeer dit dan behoorlik as jy 'n bietjie moeite doen vir hulle, en dis natuurlik een groot plesier
om hulle dop te hou as hulle eet.
Daar is verskillende tipe voedings wat geskik is vir wilde voëls, dis nou vir vleisvreters, saadeters en suikerbekkies.
My vriendin Karin, met haar kenmerkende deeglikheid, het eers 'n hele
studie gemaak van geskikte resepte vir hierdie voedings vir wilde voëls.
Hier onder is een vir vetmuffins wat geskik is vir vleiseters en aansienlik goedkoper is as die bolle wat in die handel beskikbaar is.
Karin sien
gereeld vleiloeries, kwêvoëls en so aan wat aan die muffins eet, maar maak jou gereed om dit daagliks te vervang in die winter - dis baie gewild.
Sommige mense sit dit sommer op die grond neer, maar pasop vir katte en honde soos
Otto, ons Doberman - hy gaan dit beslis self verorber. 'n Houertjie wat aan 'n tak hang werk goed.
Hang ook dennebolle aan die bome en druk stukkies vars vet daarin - heerlik vir hulle. Moet net asseblief nie oorskiet
vet wat klaar gesout is gebruik nie.
Karin se vetmuffinresep vir vleisetende voëls
125 g Holsum
1 k growwe grondboontjiebotter
1 k meel
2 k mieliemeel
2 k hawermout
1/2 k bruinsuiker
1 Meng droë bestanddele saam
2 Smelt Holsum en grondboontjiebotter
3 Meng alles deeglik
4 Bestuif 'n koppie binne met bietjie meel en maak dan 3/4 vol met die mengsel
5 Keer uit en laat goed droog en hard word
Kommentaar:
Ek
het my silikoonmaatkoppie vir die muffins op die foto gebruik. Dit werk goed want die mengsel sit gladnie daarin vas nie.
Madelie