As die reisgogga jou gebyt het en dit ‘n passie word, sukkel ‘n mens soms om ‘n toermaat te kry wat dieselfde plekke as jy wil sien. Wanneer dit met jou die geval is, gaan reis dan alleen. Hoekom nie?
Ja, dis
heerlik om al die nuwighede en dinge saam met iemand te beleef, maar om alleen te reis het darem ook sy voordele. Dink net, jou tyd is jou eie. As jy lus voel om vir twee ure lank na een swaan te sit en kyk, kan jy dit doen en as jy die aand
moeg is en voor sewe in die in die bed wil klim, doen dit dan – jy hoef niemand in ag te neem nie. Veral in Brittanje is dit regtig nie moeilik om alleen te reis nie, `n mens verstaan mos darem Engels, of hoe?
Hoe gaan
mens te werk?
Onthou dat dit duurder is om alleen te reis, want jy moet vir alles voluit betaal. Dink veral hier aan koste van verblyf en uitgawes op taxis. Soek `n bietjie op die internet rond, want in die winter, vroeë
lente of laat-herfs, dus buite die normale toeriste seisoen, is daar heelwat hotelle wat groot afslag aanbied as jy vroeg bespreek, veral die duurder viersterhotelle in London. Verlede jaar gedurende die winter, het sommige van hulle tot 60% afslag aangebied.
Ek doen al my hotelbesprekings self deur die internet. Webtuistes soos Tripadvisor, gee inligting oor goeie hotelle. Tripadvisor plaas ook resensies van gaste wat van hierdie hotelle gebruik gemaak het.
Dis altyd goed om te weet hoe hoog of laag ander toeriste `n plek aanslaan voor jy bespreek.
In die sentrale deel van London is daar nie eintlik gastehuise (bed and breakfasts), nie. Op die platteland is daar baie,
maar onthou net as jy vrou alleen is om seker te maak dis `n veilige plek. Hierdie gastehuise, soms ook genoem house hotels, is in baie gevalle ou herehuise wat omgebou is as hotelle. Die enkelkamers is gewoonlik in die
nok van die dak op die derde of vierde vloer, met steil en smal trappies om uit te klim. Hysers is maar ‘n skaars kommoditeit in hierdie tipe verblyf. Onthou ook, as jy alleen is moet jy alles self dra – pak dus lig. ‘n Mens kan
ook net die nodigste in `n oornagsak pak en jou groot tas by ontvangs laat toesluit.
Vir `n vrou alleen op toer is die maklikste en gerieflikste om in London tuis te gaan en dan dagtoere en uitstappies per trein te onderneem. Daar is egter georganiseerde
dagtoere beskikbaar wat Bath, Oxford, die Cotswolds en plekke soos Stratford-Upon-Avon, Stonehenge en selfs Parys insluit. Ek het op my eie al daguitstappies na Whitstable (‘n vissersdorpie in Kent), Portsmouth, Winchester, Worcester, Windsor,
Oxford, Cambridge, Chester en Canterbury gedoen.