Begraafplaas op Hazenjacht
Geure en geluide bring herinnering:
‘n tikkie Keulse water en katjiepiering van die tuin,
die aroma van ou wyn en vate vol asyn
in die oop kelder onder die huis
waar vars blommekranse geurig gestapel lê:
wit
Josefslelies in die koelte.
Swartgeklede mense probeer desperaat
die ergste somerhitte ontsnap.
Die Klein Karoo se bossiereuk walm op
as die stoet voortknars oor die klippe
tussen spekboom en alwyn,
verby
klokkiesbos en kapokbos in bloei,
teen die heuwel uit.
Onwillige berggrond is moeisaam uitgedolwe
om die nuwe bewoner te bevat;
die weg versper deur soetgeel wag-‘n-bietjies
wat gryp en vasklou.
As die kis knakkend neersak
word ‘n laaste treurlied gesing.
Langsaan wag die ouma al lank
op die nuwe aankomeling.
Stephan Lategan, Kaapstad, 25 April 2013
©