Skildery van Richard III
Koning Richard III was deel van ons kinderjare, al is hy al in 1452 gebore. Jip, was nog sommer klein toe ons hom leer ken het. Ons ma het Shakespeare se Richard III as voorgeskrewe werk in matriek gehad en
het ons kinders en ons pa altyd vroeg Sondagoggende as ons by hulle in die bed geklim het, vermaak deur ellelange stukke daaruit in haar pragtige Engels aan te haal:
“Now is the winter of our discontent
Made glorious summer
by this sun of York;
And all the clouds that lour'd upon our house
In the deep bosom of the ocean buried” en so aan… Nie dat ons ‘n enkele word daarvan verstaan het nie, hoor!
Shakespeare het Richard
III, die laaaste van die Plantaganetdinastie van konings, uitgebeeld as ‘n fyngeboude boggelrug met ‘n verskrompelde armpie, en ‘n regte monster wat sy eie twee nefies laat vermoor het om koning te kon word. Richard is in 1485 in die
Slag van Bosworth gedood toe Henry VII se ondersteuners hom aangeval het om die kroon vir Henry te probeer verower.
Richard was die laaste Britse koning wat op die slagveld gesterf het, en volgens oorlewering het hy met sy kroon op die kop
homself probeer verdedig. Sy perd is eerste doodgesteek, vandaar Shakespeare se bekende aanhaling as sou Richard glo uitgeroep het: ”A horse, a horse, my kingdom for a horse!”. Hy is inderhaas in die Grey Friars
Church begrawe, wat iewers in die huidige stad Leicester gelëe was, maar gedurende Henry VIII se hervormings vernietig is.
Soos die eeue aangestap het, en daar meer navorsing oor hom gedoen is, het dit egter duidelik geword dat
Shakespeare Richard dalk as so ‘n skirminkel uitgebeeld het ten einde in die goeie boekies van die Tudor konings wat hom opgevolg het, te kom. Die Tudors, was natuurlik die Henrys en dan ook Elizabeth I, die sogenaamde “virgin queen”.