Gastehuis of Gas Tehuis?

Gastehuis of Gas Tehuis ???

Royal Game, uitstekende gastehuis in Phalaborwa

Vra enige staatsamptenaar wat gereeld moet reis vir die werk wat hy of sy van gastehuise dink, en druk dan baie vinnig jou ore toe, want die kommentaar gaan nie baie vleiend wees nie!

Maar daar is Gastehuise en Gas Tehuise, en glo my, hulle verskil hemelsbreed van mekaar, ongelukkig gewoonlik nie prysgewys nie, maar wat gehalte aan betref, kan jy die twee nie vergelyk nie.

Baie gastehuise roem hulle daarop dat hulle beter as hotels is, omdat hulle dan kwansuis meer persoonlike aandag aan hulle gaste gee.  Gmmmf, wat jy waar kry?  En wat word nou eintlik bedoel met persoonlike aandag?  Iemand om mee te gesels?  Hoekom vind sommige mense dit so onverstaanbaar dat ‘n vrou nie omgee om alleen te reis en alleen te sit en eet nie? 

Nou moet ek darem ook noem dat ons in ons omswerwinge al in ongelooflike gastehuise oorgebly het, plekke wat enige tyd met ‘n vier-of vyfsterhotel vergelyk kan word.  Maar ongelukkig is hulle in die minderheid.

Onlangs weer op Renée en my se omswerminge in Limpopo, was die verskil tussen  die twee soorte klokhelder. 

Op dag een moes ons op ‘n klein dorpie die nag in ‘n Gas Tehuis in die industriële deel van die dorp deurbring.  ‘n Langwerpige stukkie gras met ‘n paar kamers daar rondom gebou.  Geen tuintjie nie, niks.  In die kamer kan die vensters nie oopmaak nie, want die handvatsels is stukkend – die krane lek, die lugrëeling en televisie werk nie, daar is nie eers ‘n bedkassie met bedlamp nie, niks.  Die oggend met ontbyt plak die negentienjarige bestuurder van die plek die ontbyt alles op een bord voor ons op die verlepte plastiektafelkleedjie neer.  Oop margarienebakkie, nou nie eers die moeite gedoen om dit in ‘n botterbakkie uit te skep nie en geen bottermessie in sig. 

En hiervoor vra die Gas Tehuis die staat R670.00 per kop vir bed en ontbyt.  Daar het daardie nag omtrent so tien gaste oornag, maar die eienares was nooit naby die plek nie – seker te besig om haar amper R7 000 inkomste vir die nag te gaan bank.  Miaaauw!

In teenstelling hiermee, bly ons toe die volgende aand op Phalaborwa in ‘n puik plek – absoluut vyfster.  Lieflike kamers, alles werk, mooi tuin, swembad, sjerrie in die kamer.  Die gasvrou het tot vir ons handdoeke gebring toe sy sien ons sit by die swembad.  Keurige ontbyt, DSTV.  Dit alles vir R100 meer as die Tehuis waar ons die vorige nag geslaap het.

By Musina, is die oornagplek toe 14 km uit die dorp uit.  Snaaks, kan nie onthou dat die advertensie op internet dit gemeld het nie.  In die kamers geen televisie, geen koffie, nie eers ‘n glas of ander hol ding om uit water te drink nie.  Die eetplek vir aandete en ontbyt is so ses km verder daarvandaan op die N1, nadat jy vir twee km op die hopeloosste sinkplaatpad moes ry. 

En weereens vra hulle die staat so by die R700.00 per kop per nag.

In Potties weer, is die toilet oop en bloot in die kamer, baie naby aan die bed, sowaar amper ‘n outentieke bedkassie.  Helder oordag moet jy die gordyne toetrek wanneer jy die toilet wil gebruik, want mense kan verbyloop en inkyk.  EN buite skilfer die verf van die mure af en is die mure ook plek-plek gekraak. 

MAAR kyk na die internet advertensie dan lyk die plek na ‘n paradys!

Sou daar dan nie ‘n oorhoofse organisasie wees wat die gastehuisbedryf beheer en daaroor toesig hou nie?  Ons lag nog vir wat aan ons opgedis word in die naam van gasvryheid, maar dit maak mens tog woedend vir die manier waarop die staat en dus die belastingbetaler en ander betalende gaste, uitgebuit word! 

Wat moet oorsese toeriste tog van ons dink as hulle deur middel van internetbesprekings in so ‘n plek beland?  Skaam my dood.

As ons hotelle so goed kan vergelyk met dié in die buiteland, het dit dan nie tyd geword dat iemand die uitbuiters in die Gastehuisbedryf ‘n slag vasvat nie?

Write a new comment: (Click here)

SimpleSite.com
Characters left: 160
DONE Sending...
See all comments

| Reply

Latest comments

30.08 | 12:44

It seems really a nice sharing due to its informative stuff which I will share with my dad after my https://www.goldenbustours.com/seattle-tour-packages/

...
06.05 | 19:10

...
05.05 | 20:47

Het baie geniet. Dankie.Tuinmaak my passie. Meestal onbekende musiek vir my, maar pragtig.

...
07.04 | 20:46

Hi Nalene, watter datums het jy 'n probleem mee. Dié van Dr Nel van Heerden? Madelie

...
You liked this page