Oefen, oefen en oefen

Herinneringe van 'n Matie musiekstudent: Eerste indrukke

Die ou Konservatoruim gebou - deesdae die tuiste van die Universiteitskoor

Ons moes sommer die eerste dag in die dooptyd al lont geruik het.  Dis nou toe al die voornemende musiekstudente uitgeroep is en konservatorium toe gejaag is om te gaan oefen, terwyl daar soos gebruiklik met die ander eerstejaars die gek geskeer is.  En glo my van toe af het die geoefenry nooit opgehou tot die finale praktiese eksamens verby was nie.

Vier uur per dag was die vonnis – vier eensame ure alleen voor die klavier.  Oefen, oefen, oefen, sonder ophou.  En as jy maar lui was vir oefen (soos die uwe), want daar was darem soveel lekkerder dinge om te doen, soos om te gaan stap, Kaap toe te gaan met die trein of sommer met jou pelle te kuier,  het jou bladlees deur noodweer baie vining verbeter!

Bach: Prelude en fuga nommer 9
Het dit vir een van my eksamens gespeel

Toonlere en arpeggio's

Dit was toonlere en arpeggio’s, legato en staccato, majeur en mineur derdes en sesdes uit mekaar, ook in tenoorgestelde rigting, en dan ‘n prelude en fuga, volledige sonata, en stukke uit elke musiekperiode. 

Ek persoonlik was gek na moderne stukke, soos Khatchaturian, Ibert en so aan, heelwaarskynlik omdat niemand dan kon hoor as jy verkeerd speel nie.  Ook ‘n begeleiding en snelstudie moes ingeoefen word.

Grieg: "Puck"
Heerlike stuk om te speel

Klaviereksamens

Ons klavierdosente was uitstekend – Antoniadis en Lionel Bowman, was erkende konsertpianiste, terwyl Dawid Muller en Betsy Cluver (my dosent), weer goeie leermeesters was.

Twee maal per jaar was dit dan nou jou praktiese eksamen.  As jy by die lokaal inloop, dan sit daar so drie of vier van die dosente en die prof en dan moet jy uithaal en wys.  Sulke tye het my sondes by my oë verbygeflits, seker soos as mens doodgaan, en dan dink jy net aan al die tye wat jy kon geoefen het en eerder drooggemaak het.  Nou na al die jare, kry ek nog steeds nagmerries – droom dat ek moet eksamen speel en gladnie geoefen het nie.  Toe ek dit onlangs noem, sê my skoonseun (wat weet van sulke dinge), dat dit darem uiters traumaties moes gewees het as dit my na al die jare nog pla.  “You bet Serge, he he”.  Maar, die uwe het darem altyd deurgeskraap, hoewel ek nou nie eintlik ‘n “performer” was nie – te skaam en emosioneel nie opgewasse.

"Caro mio ben", van Giordani, gesing deur Hvorostovsky
Min sangstudente wat hierdie lied nie sing nie. Ook populêr vir die begeleiderseksamen.

Annekse

Omdat die konservatorium toe al te klein was, het die universiteit ook ou woonhuise, of Annekse, gehuur waar sommige van die dosente se kamers was, asook oefenklaviere.  By die konservatorium self, was daar ‘n hele rits oefenkamers langsmekaar wat ons die trein genoem het.  Dit was nogal lekker om die deure oop te gooi en dan sommer drie of vier gelyktydig iets saam te speel, soms met die ou Wicksorrel en die kontrabas wat in die besemkas gebly het, by. 

Net om die draai van een van die Annekse het daar ‘n groot, bejaarde man op ‘n kissie gesit, elke dag vir ure, doodstil.  Hy was blykbaar ‘n ou tuinier van een van die huise langsaan wat afgetree het maar steeds ingeslaap het.  As jy verbyloop sê jy dan “Ag-en-taggentag”, en hy antwoord “Ag-en-taggentag, ja”.   Hy was ‘n legende op die Akker, en van die manskoshuise het hom gereeld gaan haal om te kuier by hulle.

Hubert du Plessis

Hubert du Plessis - hy was gek oor katte.

Die komponis, Hubert du Plessis, was my gunsteling dosent.  Hy het sy vakgebied musiekgeskiedenis en vormleer ontsettend goed beheer, en sy klasse baie lewendig aangebied. 

Hubert was ‘n regte mens mens.  In ons derde jaar het ek seker gesit en droom in sy klas, want hy het ‘n toets verskuif vanaf die aand na die middag.  Toe die uwe houtgerus die aand opdaag om toets te skryf was daar geen mens te sien nie.  Baie benoud het ek hom geskakel by die huis.  “Ag nee, my darling”, sê hy toe, “moenie jou bekommer nie, kom moremiddag vir ‘n mondeling”.  So ‘n fout sou in van die ander departmente soos wiskunde, ‘n student maklik ‘n ekstra jaar op universiteit gekos het!

Mussorgsky: "Prente op 'n uitstalling"
Het dit die eerste keer in een van Hubert se klasse gehoor - nog steeds mal daaroor.

Oor harmonie en kontrapunt

Harmonie en kontrapunt was my gunstelingvakke, seker omdat ek nie daarmee gesukkel het nie – baie goeie onderwyseres by Bloemhof gehad, Mrs Miller. 

Om een of ander simpel rede besluit ons klomp om die laaste klas in kontrapunt te “general”, dit was nou om almal saam weg te bly.   Ai, hoe het Bernard Shaw nou weer gesê: “Youth is wasted on the young”.  Ons was ‘n sprekende voorbeeld daarvan, want ons was nog nie eers klaar met die leerplan nie, moes nog die inleiding tot ‘n fuga behandel. 

Die middag voor die kontrapunteksamen, toe skop my beskermengeltjies weer in, en iets sê net vir my, gaan musiekbiblioteeek toe en neem ‘n boek uit oor die skryf van ‘n fuga.  Kom toe daar aan net toe die bibliotekaresse wou sluit.  Gelukkig help sy my darem toe nog.  Die aand het ek die fuga opgeswot en “bingo” die volgende oggend was daar ‘n vraag van 50 punte uit die 200 oor die inleiding tot ‘n fuga.

Toe die uitslae uitkom was daar ‘n regte gewëen en ‘n gekners van tande, want uit ons hele klas van so 17 BA (Mus) studente, het net drie Kontrapunt deurgekom en nie ‘n her gekry nie.  Die uwe, was, danksy my beskermengeltjies, een van die drie.   Met gradedag, was ek nog doodseker die universiteit het ‘n fout gemaak en as ek met my toga opdaag, gaan hulle dit agterkom.  Eers toe oom John Vorster my op die kop kap, het ek dit begin glo!

Bach: Prelude en fuga, nommer 22
Dink het dit in my derde jaar gespeel.

Arnold van Wyk, oftewel Nols

Arnold van Wyk, was ons dosent in orkestrasie.  Wanneer hy jou verwerking bekyk, kon hy dadelik sê of dit gaan klink of nie.  Net soos Beethoven, wat ontdanks sy doofheid nog steeds gekomponeer het, want as jy lank met musiek te doen het, kan jy van die partituur aflei hoe dit gaan klink – nie nodig om dit op die klavier te speel nie. 

Nols se klaskamer was in die Ateljee, so ‘n ou Kaaps-Hollandse geboutjie aan die kant van die Botaniesetuin agter die Konservatorium.  Die SAUK het skynbaar aan die begin van die uitsaaiwese, gereeld daar opnames gemaak. 

Die Ateljee is onlangs omskep in ‘n pragtige restaurant, “Katjiepiering”, maar meer daaroor later.

Skoolmusiek

Koorleier van die Stellenbosse Universiteitskoor.

Die bekende Philip McLachlan, het skoolmusiek onderrig.  Dit was nogal ‘n voorreg om van naderby met sy idees oor koorafrigting kennis te maak.  Deur hom het mens regtig respek gekry vir koorleiers en koorlede wat bereid is om soveel ure af te staan aan koorsang – jy het baie stamina daarvoor nodig!

Kliek op die skakel hier onder vir "My love is an arbutus".  Ons moes dit die heel eerste dag in sy klas sing as 'n voorbeeld van 'n goeie, maar eenvoudige melodie.  Pragtig.

http://www.youtube.com/watch?v=RdW3yHsevjI

 

Of ek weer musiek sou geswot het as ek nou kon kies?  Met volwasse insig, miskien, en sou dan hopelik nie my “youth so gewaste” het nie en meer geoefen het.

 

Ibert: "Littile white donkey"
Nogal geniet om dit te speel.

Katjiepiering Restaurant

Uitsig op boomvarings vanaf "Katjiepiering" se stoep.

Toe ek die eerste keer die restaurant besooek, het ek onmiddellik so 'n gevoel van deja vu gekry.  Was seker ek was al daar.  Begin toe gesels met die bestuurder, en dit is toe ook so.

"Katjiepiering" is ingerig in die ou Ateljee wat deel gevorm het van die Konservatorium in my dae as musiekstudent.  In die begin van die uitsaaiwese is dit as ateljee ingerig waar die ou SAUK gereeld opnames gemaak het.  Die ou rooi en groen liggies waarmee toegang beheer is ten tyde van die opnames sit nog steeds teen die muur.

"Katjiepiering", is 'n pragtige plek, met sy uitsig op die boomvarings van die Botaniesetuin.  Ideaal vir kinders, met hope tafeltjies buite, maar binne heerlik snoesig op 'n koue en rëenerige dag.

 

Die restaurant doen baie moeite om die disse keurig voor te sit. Watter kind gaan dan nou nie so 'n broodjie wil eet nie?

Spyskaart

Kyk dan nou net Susan se aantreklike hamburger. "Kyknet" sou dit seker beeldskoon noem. Hmmm!

Die spyskaart maak voorsiening vir alle sakke.  Spesiale geregte van die dag, is heerlike soppe, kerriegeregte, bredies en so aan.  Vis en skyfies is ook aan te beveel.

Daar word regtig moeite gedoen om borde aantreklik voor te sit.  Susan se hamburger was 'n prentjie.

Die plek moet voorwaar swaar vat aan die beursies van die studente in die omliggende koshuise.

Maria Stader sing "Laudate Dominum", van Mozart
Die destydse hoof van die Musiekdepartement, Professor Richard Behrens, het baie moeite gedoen om goeie oorsese kunstenaars na Stellenbosch te lok om uitvoerings te gee. Maria Stader was een van hulle. "n Miniskule ou mensie met 'n groot stem.

Write a new comment: (Click here)

SimpleSite.com
Characters left: 160
DONE Sending...
See all comments

| Reply

Latest comments

06.05 | 19:10

...
05.05 | 20:47

Het baie geniet. Dankie.Tuinmaak my passie. Meestal onbekende musiek vir my, maar pragtig.

...
07.04 | 20:46

Hi Nalene, watter datums het jy 'n probleem mee. Dié van Dr Nel van Heerden? Madelie

...
07.04 | 09:09

Kan iemand dalk sê die datums klop nie... Die datums wat op foto's is en die ouderdom wat sy behoort te wees, werk nie lekker saam nie. Kan iemand dalk help?

...
You liked this page