Kindertyd in die paradys

Die paradys...

In haar boek “Kerssnuitsels”, skryf Dr Petronella van Heerden , die eerste Afrikaanse vrou wat as geneesheer gekwalifiseer het,  dat Jacobsdal vir grootmense maar ‘n verlate plek moes gewees het, maar vir kinders ‘n paradys.  Sy het as kind op Jacobsdal gewoon ten tyde van die uitbreek van die Boereoorlog.  So sestig jaar later, sou dieselfde stelling seker nog kon geld – geen teerpaaie of elektrisiteit, drie winkels, ‘n slaghuis, ‘n poskantoor, kafee en motorhawe. 

‘n Buksie van ‘n dorpie, maar een met ‘n groot hart.

 Jacobsdal was inderdaad ‘n paradys vir ‘n kind.  Ons klein dogtertjies het ver en wyd gespeel en ons beskermengeltjies was 24/7 aan diens.

Gunsteling speelplekke, die begraafplaas en blokhuis

Jacobsdal se blokhuis uit die Boereoorlog

‘n Gunsteling speelplek was die begraafplaas – heeltemal aan die ander kant van die dorp as waar ons gewoon het.  Ons het al die graftes geken en het graag met stukkende bottels en blompotte wat daar rond geleê het, mooi patrone op die grafte gepak.  Die enigste deel waar ons nooit gekom het nie, was waar die Britse soldate begrawe was – sulke geroesde, swaar ysterkruise op die grafte.  Ek is bevrees enige iets wat met die kakies te doen gehad het, was uit - ons het selfs in speletjies eerder ”cowboys en kroeks” gespeel as boere en kakies, want g'n kind wou 'n kakie wees nie.

Jacobsdal het interessante gewoontes gehad waar dit begrafnisse aangaan.  Net voor die begrafnis begin, het die klok soveel slae geslaan as wat die oorledene oud was – al wat kind was het dan stil gaan staan om die slae te tel. 

In die ou blokhuis buite die dorp (waar ons ook gereeld gespeel het), het daar ‘n pragtige ou Victoriaanse lykswa gestaan wat nog deur perde getrek is.  In ons tyd is dit nie meer gebruik is nie.  Het net so een in die vervoermuseum op Heidelberg gesien. 

Op ‘n stadium het ons ‘n orreliste gehad wat baie graag op begrafnisse die statige en gedrae “Largo” van Handel gespeel het, maar een bejaarde oud-stryder oom, dink sy naam was oom Daniel, kon dit nie verdra nie, en sodra sy dit begin speel loop hy uit die kerk uit – volgens hom was Handel ‘n Rooms-Katoliek en hy luister nie na Roomse musiek nie.

Handel se "Largo"
Oom Daniel se doodsteek

Die Boereoorlog

Slagveld by Magersfontein met van die loopgrawe nog duidelik sigbaar

Naby die begraafplaas was ook die Fonteindam, waar ons graag gaan swem het.  Ons het ons eie dam en windpomp by die huis gehad, maar die Fonteindam was baie groter en mens kon dus langer afstande swem.  En buite die dam het daar bosse en bosse kruisement gegroei wat hemels geruik het en verfrissend was om te eet in die Vrystaatse hitte.

Net om die draai van die begraafplaas vloei die Rietrivier met sy kolganse, wilde eende en groot modderpoele om in te speel.

Al was dit meer as sestig jaar na die Boereoorlog, was die oorlog nog sommer vars in die geheue van die Vrystaters.  Jacobsdal was immers die eerste dorp in die Vrystaat wat deur die kakies ingeneem is.  Daar was nog heelwat bejaardes in die gemeenskap wat as penkoppe aan die oorlog deelgeneem het, asook mense wat as kinders die verskrikking van die konsentrasiekampe deurgemaak het.  Met die eeufeesviering van Jacobsdal in 1960 was daar selfs nog van die oudstryders wat deel van die perdekommando gevorm het.

Ja, die oorlog was vir ons kinders ‘n werklikheid.  Die kakiekamp was in die ysterkoppies agter ons huis gestasioneer.  Die plek was na al die jare nog besaai met boeliebiefblikkies, koëeldoppies, en ons het selfs knope en kentekens opgetel. 

Die kakies het ook vanaf die blokhuis op die kerkdeure geskiet – daar was duidelike koëelgaatjies wat met stopverf opgevul is.  Ons pa was die skriba van die kerk en het ons in die doopregisters laat rondblaai om die gekrap en boodskappe te sien wat die soldate daarin aangebring het.

Soos die kraai vlieg was Magersfontein ook nie baie ver van Jacobsdal af nie en ons het gereeld op Heldedag, 10 Oktober, daar gaan bossies uittrek op die graftes en op die slagveld rondgeloop om bomskerwe en ander artikels op te tel.  Die loopgrawe was ook nog duidelik sigbaar.

Opwaarts

Ons skool was destyds die geboue van die ou ambagskool, ons skoolsaal hulle werkswinkel, met growwe sementvloere en oop balke.  Omdat die skool vinnig gegroei het, was daar te min klaskamers beskikbaar en is daar ‘n klompie “pre-fabs” opgeslaan.  Ons was danig trots op hierdie nuwe klaskamers. 

Water vir ‘n grasbeplante rugbyveld was daar nie.  Die veld is gereeld geskraap, maar daar het tog plek-plek bossies gegroei.  Die netbal-en tennisbane is met miershoop geplavei. 

Die gebrek aan fasiliteite het ons gladnie gepla nie, en ons het gereeld al wat beker was in die omgewing teen Fauresmith, Jagersfontein, Petrusburg en Koffiefontein gewen. 

Omdat ons ‘n landbouafdeling gehad het, was die rugby baie goed.  Kimberley Boys High het eendag by ons kom speel – ons was baie opgewonde toe die groot bus aangewieg kom na die rugbyveld.  Die hoof het uitgeklim, die veld so bekyk en toe punte oorgegee en vertrek sonder dat een van die seuns eers uit die bus uit geklim het – ou Jakkie se rugby was nie vir sissies nie.  So ‘n paar jaar gelede het my nefie Fanus wat op Landboudal op skool was nadat dit al ‘n grend skool geword het, my vertel hoe “taf” hulle manne dan nou sou wees – sou dan kastig as babas aan hulle pa’s gedrink het.  Maar ek wonder darem – toe ons vyf jaar gelede op Landboudal was, was dit sulke sagte grasvelde waarop die manne besig was om te oefen.  Hoe het die helde nie geval nie, hmm?

Ten spyte van die swak fasiliteite destyds, het die skool net so ‘n goeie klompie, professore, doktore, mediese dokters, lektore, skoolhoofde en so aan opgelewer as groot ryker skole.   Wys jou net, dit hang van die kwaliteit van die mense af, nie hoe luuks of deftig die geboue is nie.

Fliektyd

Elke Saterdagaand is daar gefliek in die skoolsaal, dis nou mits die ligte-enjin aan die gang gekry kon word. 

Ons het gereeld die vreeslikste rillers gesien – ek onthou een met die naam “Them”, van sulke mieragtige monstertjies met voelhorings wat mense se breine uitgesuig het – gruwelooslike fliek – het daarna vir ‘n paar nagte agter my ma se rug ingekruip. 

Maar ons het ook romantiese flieks uit die begin van klank- en kleurrolprente gesien, hier uit die dertiger jare.  “Rosemary” was vir my en Ferdi my maatjie baie mooi – dink Nelson Eddy het dit gesing: “ O Rosemariiiie, I love you” en ook “When I’m calling you hoe hoe hoe, hoe hoe hoe” en so aan -  ons het dit uit volle bors gesing as ons swem.

"Indian love call" uit "Rosemarie"
Byt net vas, die "call " kom na so 'n minuut
Ons het geglo hierdie goggas kan gif in jou oë spuit as jy te naby kom. Het hierdie foto van 'n BBC artikel af gekry - lyk my ons was toe al die tyd reg - dus baie beskrywende naam "oogpister"

Langs ons huis, Akkedisbult, was daar ‘n ou verlate swembad wat gewemel het van goggas soos koringkrieke en “oogdokters” soos my ma hulle genoem het.  Ons het egter die regte naam geken – oogpisters.  Nog nooit na al die jare weer een van die goed gesien nie, maar ek dink nogal ‘n “Parktown prawn” moet naby familie van die koringkrieke wees – jig!

Naby die dorpsmeent waar die diere gewei het, was daar sulke snaakse gate soos putte in die grond – hierdie gate was met mekaar verbind.  Daar was nie water in dat dit fonteine kon wees nie – wonder nog altyd wie hulle gegrawe het en hoekom.

Om die draai van ons het daar twee broers gewoon, ou Jood en ou Hennie Lourens.  Hulle het ‘n paar koeie gehad wat hulle vroeg in die more veld toe gejaag het en laatmiddag weer gaan haal het.  Sou die koeie dit durf waag om te probeer uitbreek, het die twee hulle in die mees gekruide taal aangespreek. 

Hulle  het ons kinders se woordeskat aansienlik uitgebrei, tot groot ontsteltenis van ons ma, want die ergste wat sy ooit kwytgeraak het was “dashed”, en dan moes iets baie ergs gebeur het!

 

Musieklesse en kunswedstryde

Kimberley se stadsaal

Jacobsdal het ‘n baie goeie musiekdepartment gehad.  Die uwe moes op vyf al met musieklesse begin.  Die juffrou was briljant, sou later dosente op Bloemfontein by die Konservatorium word, maar het ons teorie in Engels geleer – “compound duple, triple, semibreves, demi-semi quavers" en so aan, en vir ‘n vyfjarige wat net Saterdagaande in die fliek Engels gehoor het, was dit nag.

Dis toe ook net hier waar die smarte van die kunswedstryde ook begin het.  Die musiekjuffrou, Mev Immelman, se seun Niel, was hiper-begaaf en het dan ook later Professor aan die Royal College of Music in London geword en bied steeds gereeld konserte reg oor die wêreld aan.  Hy was net so oud soos Fanus, my broer, en sy sussie, Jeanita, weer my ouderdom. 

Ons is vir alles ingeskryf, eers op Kimberley en later op Bloemfontein: eie keuse, voorgeskrewe, bladlees, trios, duette, twee klaviere, alles in verskillende ouderdomsgroepe.  Ek en Jeanita was in Sub B toe ons vir die eerste keer ‘n duet moes speel in Kimberley se stadsaal.  Ons voete kon nog nie die pedale van die groot konsertvleuel bykom nie.  Kan onthou ons het eers kliphard bespreek wat ons gaan doen, toe begin en gestop, weer begin en gestop en toe laat waai en klaargemaak.  Darem nog steeds ‘n goeie punt gekry he he. 

Oor bome

Selonsrose

Peperbome was volop op die dorp, en langs die strate was seringbome geplant – die heerlikste geure in die vroëe lente van die pers blommetjies, maar ook ‘n teken dat die musieksamens om die draai was. 

Fanus, was van kleins af ‘n regte groenie en baie lief vir bome en die natuur.  Eendag kom hy egter hoogs ontsteld by die huis aan – die stadsraad was besig om die reuse ou bome voor die nuwe Eeufeessaal uit te haal, sodat mens die saal beter moes kon sien.  Pappa het gaan praat en die bome is gered. 

Rondom die kerk was selonsrose geplant – pragtige blomme gedra.  Dit en die seringe is deesdae op die lys van ongewenste plante en mag nie meer aangeplant word nie omdat dit so giftig is.  Maar kan nie onthou dat iemand ooit op Jacobsdal siek geword het daarvan nie.

Akkedisbult

Canterbury bells

Ons plek se naam was Akkedisbult, omdat dit aan die kant van die dorp teen ‘n bult gebou is – ‘n paar erwe aanmekaar met ‘n eie windpomp en dam. 

Ons pa het ‘n hele boerdery daar bedryf – paar dosyn Kakamasperskebome, klomp wingerdstokke, al wat ‘n groentesoort was, en die mooiste tuin met baie blomme – “fox gloves, Canterbury bells, Bells of Ireland”, en pragkrisante en rose waarmee hy gereeld pryse op skoue gewen het – landbou was darem immers sy rigting.  Daar is seep gekook, vrugte gedroog, mos – en turksvystroop gekook, alles is ten volle benut.  Hy het later selfs droë vrugte aan koshuise en Landsdienskampe gelewer.

Omdat ons sulke pragtige snyblomme in die tuin gehad het, het my ma bosse vol gepluk en dan moes ek en Fanus gereeld op Saterdae vir die bejaardes van die dorp blomme neem.  My gunsteling was tannie Reinach en haar dogter mev Marx.  Hulle huis was pragtig binne – so tipies Victoriaans ingerig, met swaar fluweel gordyne, “plush” kleetjies op die tafels, die mooiste lampkappe en matte.  Tannie Reinach was ‘n baie verfynde dame en effens doof – sy het dan so ‘n snaakse trompetjie by haar oor gehou om die klank te vergroot.  Het later net so een in ‘n museum gesien. 

Daar was ook ‘n man, oom Willie du Toit wat toe al vir iets soos 60 jaar lank al bedlêend was.  Ons kinderkransdogtertjies het gereeld vir hom blomme geneem en dan vir hom gesing” Liefste omie, ons bring rosies, rosies blink in môre dou”.

Matriekserenade

Die laaste aand voor die matriekeksamen sou begin, het die matrieks altyd by ons kom “serenade” – liedjies soos “When its springtime in the rockies”, en “Now is the hour” en so aan – pragtig om so wakker gemaak te word!

"When it's springtime in the Rockies"
Die Rockies in die lente

Oor kerk en Sondagskool

Jacobsdal se kerk

Ons Sondagskool het elke jaar ‘n piekniek gaan hou in ‘n bos so ‘n ent buite die dorp – dit was een van die hoogtepunte van die jaar waarna almal uitgesien het.  Die groot kinders het dan speletjies soos “Ellie Rous” en “Boompie verplant” gespeel. 

‘n Ander  hoogtepunt vir ons dogtertjies was die Kinderdankoffer-Sondag, want ons het dan almal nuwe uitrustings gekry – nuwe rok, hoed, handskoene, skoene, die lot, want al die kinders het bymekaar gesit en dan een–een na vore geloop om die koevertjie in die kis te gooi, en 'n mens moes mos darem mooi lyk vir so 'n okkasie.

Met kerkbasaar, en groot atletiek, was man en muis in die dorp daar.  Daar is dan tot 20 skape geslag en een of twee beeste en wors en sosaties gemaak vir Afrika.  Die poedingtafel was natuurlik ook baie gewild -  so ‘n bakkie met ‘n mengsel van jellie, gebakte poedings, vla  en so aan.  Hmm…

As ek nou terug dink, is ek baie bly daar was nog nie televisie en so aan toe ons klein was nie, en dat ek op ‘n klein dorpie grootgeword het – ons ma’s het destyds gesukkel om ons in die huis te kry om klavier te oefen of huiswerk te doen – daar was net te veel afleiding in die paradys.

Hier onder volg 'n paar foto's van Jacobsdallers van die setigerjare.  Ek kry nie die foto's gecrop nie.  As jy dit mooi wil sien, "copy" en gooi dit dan in Word.  Jy kan dit dan maklik vergroot.  Geniet.

Ons Standerd vierklas in 1960. Die gemeenskap was op darem stadium maar arm - kinders het gedra wat hulle gehad het. Daar was nog nie entlik 'n eenvormige skooldrag nie. My maatjie Elmarie sit voor derde van links. Ons sou later ook saam matriek doen by Bloemhof.

Write a new comment: (Click here)

SimpleSite.com
Characters left: 160
DONE Sending...

Madé Hugo | Reply 07.04.2017 20.46

Hi Nalene, watter datums het jy 'n probleem mee. Dié van Dr Nel van Heerden? Madelie

Nalene Nel | Reply 07.04.2017 09.09

Kan iemand dalk sê die datums klop nie... Die datums wat op foto's is en die ouderdom wat sy behoort te wees, werk nie lekker saam nie. Kan iemand dalk help?

Chris Lübbe | Reply 28.10.2016 22.29

Ons Lübbes se Paradys vakansies by Oupa Rooi Joachim en Ouma Sannie saam met ons ouers...trein gery van Pretoria tot Modderrivier stasie

Madelie 07.11.2016 22.05

Ken van Modderrivierstasie - ons het altyd mt oudste twee broers daar gaan haal as hulle van Stellenbosch af huis toe kom.
Onthou oom Joachim goed.

WILLIE BOTES | Reply 02.08.2014 17.39

Die goeie ou dae. Die tyd het vining verby gevlieg

Madelie 02.08.2014 18.55

Ja, vinniger as wat mens besef. Jy ook 'n ou Jacobsdaller?

Martie Lategan | Reply 01.04.2014 12.48

Deelname Van Riebeeckfees 1952, Vrystaatse Eeufees 1954? leerlinge van Rietrivier Besproeiingskema het skoolbus gery, wat bron van lekker stories kan wees

Martie Lategan | Reply 01.04.2014 12.33

Vrugte-stelers! Volkspele Woensdagaande! 3 Skoolkonserte p.j. Laerskool, Hoërskool en volwaardige Musiekkonsert! Skoolkore van Mev Liebenberg!

See all comments

| Reply

Latest comments

30.08 | 12:44

It seems really a nice sharing due to its informative stuff which I will share with my dad after my https://www.goldenbustours.com/seattle-tour-packages/

...
06.05 | 19:10

...
05.05 | 20:47

Het baie geniet. Dankie.Tuinmaak my passie. Meestal onbekende musiek vir my, maar pragtig.

...
07.04 | 20:46

Hi Nalene, watter datums het jy 'n probleem mee. Dié van Dr Nel van Heerden? Madelie

...
You liked this page