Oupa se eerste vrou - Johanna Frederika Dednam
Toe jy huis en haard moes agterlaat,
Vegkop se plaas te voet verlaat,
hoogswanger, met vyf klein kinders;
toe jy deur gevoellose Engelse soldate
na Heilbron aangejaag is,
het jy besef dat dit die einde was;
dat jy jou tuiste en jou familie
nooit weer sou sien nie?
Toe die klik-klak op die spore uiteindelik ophou,
die beestrok se deur oopgaan
en julle bedremmeld uitstrompel,
vrouens, kinders en grysaards,
was die daelange bespotting, inkerkering sonder geriewe
ingekerf op julle gesigte,
met ‘n rasende dors
na dae se vergeefse gebedel vir water
op elke stasie.
Wat was jou reaksie toe jy die tentdorp sien:
dat dit ‘n uitkoms was,
dat dit nou beter sou gaan?
Dat jou Engelse man
se Christenmense
na julle sou omsien?
Toe jy die angs en smeking
In jou kinders se verwilderde oë sien
oor
jou grimas van pyn
en jy hospitaal toe moes gaan,
waaruit jy nie sou ontsnap nie,
hoe kon jy die wanhoop uitstaan:
Here wat gaan van hulle word?
Kon jy dink dat die jongste jou spoedig sou volg
die ewigheid in?
Was jou laaste gebed dalk:
waarom dan tog Heer?
Vir watter verhewe doel sou dit alles gebeur?
Is die loutering werklik volgens U wil?
Eintlik was dit maar net
om die goudlus ontwil.
For
King and Country
and Empire
©
Stephan Lategan, Kaapstad, 18 Junie 2013.
Ter gedagtenis aan Johanna Frederika Dednam en haar dogter Hester, 3 jaar (my tante), oorlede te Oranjerivierstasie (Doornbult) Konsentrasiekamp,
1902