Huis Silwerjare, Huis Aandskemering, Huis Awendmymering, Westergloor, Silwersig, Avondrus, Najaarsrus, Skemergenot, Vergenoeg, Najaarsgoud, Huis Herfsblaar, Huis Herfsakker, almal name van ouetehuise wat ek al gesien het en genoeg om die Gryskrag permanent
in ‘n toestand van depressie te dompel!
Wat makeer die mense tog wat hierdie name uitgedink het? Ons word almal oud, maar jy hoef darem nie heeldag daaraan herinner te word nie. Wie wil nou sy adres opgee as Huis Skemergenot?
Dan nog die plekke wat na die een of ander dominee vernoem is – Huis H J Piek, Huis Postumus, Susan Strijdom Tehuis, Huis Spataar – (OK die laaste een is Renée se bydrae, ala Casper de Vries). Hoekom moet dit altyd ‘n
Huis of Tehuis, of ‘n Oord wees? Is dit nou regtig nodig?
Daar is soveel pragtige, opbouende name wat gebruik kan word. Ons blomname is van die mooiste in enige taal - Magrietjie, Katjiepiering, Angelier, Rosenhof,
Fleurenville, Vergeet-my-nie (miskien liewer nie hierdie een nie, en nou dat ek daaraan dink, bly ook maar weg van Weeskindertjies).
Hoekom nie wynname probeer nie? Dit kan die inwoners dalk net opkikker: Chardonnay, Muskadel, Cabernet,
Zinfandel, Pinot Noir - kan defnitief werk. Maar bly maar liewer weg van Chenin of Sauvignon - kan dalk 'n politieke insident veroorsaak he he.
En hoekom speel RSG altyd net die mees neerdrukkendste “sadste” Psalms en Gesange
wanneer hulle die bejaardes gelukwens met hulle verjaarsdae? Sal ‘n lekker ou walsie nie beter afgaan nie?
Ek het een keer vir my predikant-oom gevra of dit nou nodig is dat die radio altyd die hartseerste liedere vir die bejaardes speel.
Hy dink toe dis baie snaaks, en sê: “Toe maar jy sal verstaan as jy eendag oud is!”
Weet darem nie so mooi nie.