Op pad na 'n 1 000/2 000

Op pad na ‘n 1000 - wenke vir normale mense buite die gewigsklas van Barbie en Ken.

Het dit toe gemaak – jip, meer as 1 000 km al gestap vanjaar.  Nuwejaarsvoorneme om gewig te verloor en weer fiks te word, danksy stappery reggekry.  Dis reg, twee vliëe met een klap!

En was dit moeilik?  Nie regtig nie, jy moet dit net reg beplan en aanpak.  En die voordeel van ‘n stappery is dat dit jou niks kos nie, en dat jy maar kan vergeet van kos afweeg en sulke dinge.  Hoe meer jy stap, het ek gevind, hoe minder kan en wil jy op ‘n slag eet, en dit nou komende van ‘n emosionele eter.  Maar, byt net vas, dit het my omtrent drie maande geneem voordat ek regtig gewig begin verloor het.  Moet jou ook nie weeg nie - ek persoonlik verloor te gou moed as die vetjies nie afkom nie, want selfs op die strengste dieet met 'n geweeg van posies en so aan verloor ek maar baie stadig gewig.  Oefening is maar al wat vir myself werk!

Besluit eers hoe ver jy op ‘n dag wil gaan stap en verken dan jou woonbuurt vir ‘n geskikte staproete.  Bome weerskante van die pad beteken skaduwee in die somer en ‘n sement voetgangerpaadjie maak jou lewe baie makliker.  Ry dan met jou motor ‘n geskikte roete uit so ver as wat jy beoog on daagliks te stap. 

Begin so

Doen jou beplanning aan die begin van jou vakansie of ‘n langnaweek en begin dan stap op die tyd wat jou die beste gaan pas sodat die gewoonte gevestig is teen die tyd dat jy moet teruggaan werk toe.

Trek so aan

Vir my persoonlik  is die Pep Stores sweetpakbroeke vir R70.00 die heel gemaklikste – baie beter as die duur uitrustings wat die sportwinkels verkoop.  Die broeke is sag en warm teen mens se lyf.

Dra jou kinders se ou t-hemde op, of as jy ‘n staatsamptenaar is, die promosiehemde wat ons so gereeld persent kry.  Lees om hemelsnaam net eers wat op die goed gedruk is, sodat dit jou nie oorkom wat my op Glentana oorgekom het nie.  Gaan stap toe met ‘n t-hemp wat ons vir Vigsdag “Celebration” (sic) gekry het.   Nou kyk, op die platteland groet almal mos maar vir almal en dit was eers nadat ek die soveelste vuilkyk gekry het, dat ek lees wat op die hemp gedruk is.  Voor staan daar “Aids Celebration” en agterop so ‘n lys goed wat mens kan doen om te verhoed dat jy vigs kry, onder andere “Abstain” en “Condomise”.  Mmm  nie goed afgegaan op die konserwatiewe stranddorpie met sy baie predikante en eks-predikante nie.  Gawie en sy klomp studentemaats wat by ons gekuier het, het dit darem geniet!

‘n Gemaklike paar tekkies is ‘n moet.  Trek jou kousies waarmee jy gaan stap aan wanneer jy die tekkies aanpas.  Onthou ook dat jy jou duim agter by die hak moet kan indruk wanneer die tekkies vasgemaak is om te verseker dat dit groot genoeg is.

Belê ook in ‘n goeie sonskermroom en pet of hoed vir warm dae.

Rus so

My kollega wat al ‘n paar Comrades gedoen het, sê mens moet na jou liggaam luister wanneer om te rus.  Bly tuis as jy verkoue het.  Gelukkig kry mens nie baie sportbeserings van stap nie, maar dis belangrik om af te koel, oftewel om jouself koud te lei soos met ‘n perd.  Gaan lê op die mat of op die gras en rus totdat jy weer normaal asemhaal.

Nou toe, val in die pad en geniet dit.

Groete

Madelie

 

 

PS

En as jy nou die dag die 1 000 km gehaal het, koop ‘n klein botteltjie vonkelwyn en tap vir jouself ‘n borrelbad – laat die ou voetertjies bietjie rus, hulle verdien dit.  ‘n Botteltjie “Bath Champagne” werk baie goed, maar sit jou bril op anders maak jy dalk die verkeerde botteltjie leeg in die bad.  Geniet!  

 

Ek en Karin vier die 1 000 km by Smutshuis Museum, Irene.

Haal toe nou 2 000 km ook

Darem baie dankbaar dat ek gesond genoeg is om so te kan stap.  Teen hierdie tyd al so gewoond daaraan, dis nie meer te veel van 'n inspanning nie.  DIt werk vir my om vir vier dae te stap en dan 'n dag te rus, en as jy met vakansie is, RUS jy. 

Die eerste 300 km was sekerlik die ergste, om te moet stap na werk as jy moeg is en dis warm, bly moeilik.  Daarom is nou, in die winter, die beste tyd om te begin stap, sodat jy in die gewoonte is wanneer die somer kom.

En is dit nie vervelig om elke dag dieselfde roete te loop nie? 

Nee man, dis heerlik om te sien hoe die bome, plante en tuine langs die pad seisoenaal verander.  EN jy weet presies hoe ver jy nog van die huis af is as jy moeg is of 'n donderstorm dreig🤭.

En moet ek nie nou 'n slag verder as 7 km begin loop nie?

Moenie laf wees nie, daars nie 'n manier nie!

Write a new comment: (Click here)

SimpleSite.com
Characters left: 160
DONE Sending...
See all comments

| Reply

Latest comments

30.08 | 12:44

It seems really a nice sharing due to its informative stuff which I will share with my dad after my https://www.goldenbustours.com/seattle-tour-packages/

...
06.05 | 19:10

...
05.05 | 20:47

Het baie geniet. Dankie.Tuinmaak my passie. Meestal onbekende musiek vir my, maar pragtig.

...
07.04 | 20:46

Hi Nalene, watter datums het jy 'n probleem mee. Dié van Dr Nel van Heerden? Madelie

...
You liked this page