Die rokkie is van broderie anglaise gemaak met fyn opnaaisels. Dit het ook ‘n onderrok wat mooi versier is. Om dit te bewaar bêre ons dit in blou, suurlose papier, maar dit is gelukkig nog in ‘n baie goeie toestand.
Ouma Helen het destyds goed gekoop.
Daar gaan ook ‘n foto-album saam met die rokkie, waarin almal wat doop ‘n stukkie oor hulself en die baba skryf. Baie interessant om te lees.
Dit is net vir my ironies maar terselfdertyd hartverskeurend,
dat gedurende presies dieselfde tyd toe ouma Helen artikels soos rokkies ingevoer het uit Engeland tydens die bloeitydperk in die volstruisveerbedryf, ons ander ouma Malie, met haar kinders voor die kakies uitgevlug het om uit die konsentrasiekampe uit
te probeer bly.
Sy het later vertel dat sy, wanneer die kakies hulle kampe opgebreek en vertrek het, in die perdemis gaan soek het vir mieliepitte wat nie verteer het nie. Dis dan gewas, gemaal en die lekkerste brood daarvan gebak.
Die Oos-Vrystaatse winters moes ekstra lank en koud gewees het so sonder kos en blootgestel aan die elemente.
Die twee oumas het mekaar later van tyd goed geken. Waaroor sou hulle gesprekke tog gegaan het, wonder mens?
Ai, dis bitter
om ‘n laatlammetjie te wees en nie jou oumas te geken het nie. Sou so graag met hulle wou gesels het!
Ouma Helen was blykbaar ‘n groot bewonderaar van Generaal de Wet, want ons het na haar dood koerantknipsels oor hom asook Vrystaatvlaggies
en Vierkleurvlaggies gekry wat sy bymekaar gemaak het en in ‘n ou trommel op die solder gehou het.
Ouma Malie later in haar lewe