Eton se binneplein
Eton College word sekere tye van die jaar oopgestel vir besoekers. Ons was gelukkig om dit te kon besoek gedurende die Britse somervakansie. Eton is werklik ‘n klein wêreldjie op sy eie. Die onderwysers staan onder
die seuns bekend as beaks en Eton het deur die eeue selfs sy eie sportsoort, die Eton wall game, ontwikkel.
Hoewel dit op die oomblik een van die duurste skole ter wêreld is, sowat R450
000 per jaar, is die skool oorspronklik deur Koning Henry V1 gestig vir minder-bevoorregte kinders. Een van die oorsponklike klaskamers kan deur besoekers besigtig word. Deur die eeue heen het die seuns, soos kinders nou maar maak, hulle name uitgekrap
op die houtpanele en banke. Bekendes soos Byron en Shelley se name kan gesien word.
Ons gids was ‘n oud-onderwyser van Eton en hy kon baie onderhoudend vertel van die seuns en hulle dinge. Eton is bekend vir
sy kapelkoor en sy uitstekende geriewe. Die roei- items gedurende verlede jaar se Olimpiese Spele is byvoorbeeld by Eton Dorney gehou, die skool se oefenplek vir roeiers.
Al is Eton so ‘n duur en deftige skool, was die dele van die skool
wat ons gesien het maar baie Spartaans. Veral die binnehof voor die kapel is absoluut ‘n verlate stuk grond. Ek neem aan die moderne deel van die skool is aansienlik luukser en geriefliker.