Die Franse spot graag met die Britse kookvermoë as le ros boeuf, maar vir my, `n BBC Food aanhanger, is die etery nogal `n hoogtepunt van elke toer in die UK.
Brittanje het lankal aanbeweeg
van die beesvleis en yorkshirepoeding era en van die wêreld se mees uitnemendste chefs werk deesdae daar. Moontlik juis as gevolg van die BBC se kookprogramme se gewildheid.
Laat ek net eers my eie prioriteite wat die kookkuns
aan betref, uitspel: vir my beteken die Franse terme nouveau cuisine , net een ding, en dit is “min maar grend”. Goeie waarde vir jou geld in ‘n restaurant moet darem nie net oor kwaliteit gaan nie, die kwantiteit
is mos ook belangrik, of hoe?
My skoonsus Esther het toe haar vier kinders nog klein was ‘n kode met hulle afgespreek. Alf, my broer, was destyds skoolhoof op ‘n plattelandse dorpie en hulle het dus dikwels onverwags gaste vir middagete
gekry. Wanneer die gekookte kos vir Esther ‘n bietjie min gelyk het, het sy ‘n kode geprewel, “fhb” (family hold back) en die kinders het dan geweet om min aan tafel te eet sodat daar genoeg kan wees
vir die besoekers, want ma sal hulle na ete bederf met iets lekkers uit die kombuis.
Mmm sou dit nou nie handig wees as sommige topchefs so ‘n kode op die spyskaart agter hulle spogdisse sou druk nie? Dalk iets soos SMAM,
kort vir: Supplement meal at MacDonalds.
En die ewige dekonstruksie van tradisionele disse - ek het een keer in ‘n top restaurant Deconstructed rhubarb crumble vir nagereg bestel.
En wat dis hulle toe op? ‘n Paar stokkies rabarber (rhubarb) wat soos hout in ‘n kaggel opgestapel is op ‘n groot plat wit bord, met ‘n hopie krummels en frummels langsaan en onder dit alles en
dwars oor die bord, ‘n abstrakte skildery in vla. SMAM!