Orania se monument ter ere van die koeksister
Dis tyd. As Upington ‘n monument kon oprig vir donkies en Orania een ter ere van die koeksister, is dit hoogtyd dat padkos die eer begin kry wat dit toekom, of hoe? Na alles, Padkos hou ons Suid-Afrikaners darem nou al vir eeue
lank op koers en maak die lang afstande wat ons gereeld moet aflê ‘n bietjie ligter en korter.
Vra enige iemand ouer as 60 uit na die Padkos van hul jeug, en hulle noem heel waarskynlik ‘n koekblik vol hardgekookte eiers, frikadelle
en toebroodjies. Standaard kos vir ‘n lang pad, met die seil watersak wat voor aan die buffer hang wat sorg vir koue water.
Ons ma was soos gewoonlik weer anders, maar darem met rede. “Geleerdheid” vir hulle kinders was
vir haar ouers Alfred en Malie, uiters belangrik – net die beste sou goed genoeg wees. Om een of ander rede besluit hulle toe om ma Susan en haar broer Jan kosskool toe te stuur in die Boland, maar nie sommer enige skool nie, Robertson Boys High
en Girls High. Dit is nou vanaf die plaas naby Olifantshoek in die destydse Brits Betsjoeanaland – verby Kimberley en Bloemfonteinse se bekende skole, die Paarl en Stellenbosch en die Kaap, na Robertson van alle plekke. Dit behels toe nou
eers ‘n dagreis met ‘n perdekar na die naaste stasie op Beeshoek, en dan drie dae en nagte op die trein. Behalwe biltong, droë vrugte en sulke goed, is daar vir elkeen ‘n groot koekblik met toebroodjies ingepak. Na
so drie dae op ‘n warm trein deur die Karoo, het die konfyt glo letterlik al begin gis en maak dit jou lighoofdig as jy die blik oopmaak en die reuk van die dae oue toebroodjies inasem!
Ma Susan het dus ‘n ewige hekel aan ‘n
toebroodjie gehad, en voor ons gesin die lang pad aangedurf het, baie vroeg in die oggend opgevlieg en plaatkoekies by die hope gebak. En boerewors, skaapboud en hoender. Geen frikkadel of hardgekookte eier in sig nie.
Destyds het
baie mense nog “karsiek” geword van al die sinkplaatpaaie. As ons die koup slaan anderkant Beaufort-Wes, het my pa al stilgehou, want dan is een van ons gewoonlik al “karsiek”. Die ou mense het enige iets probeer om “karsiek”
te voorkom. Kan onthou op ‘n stadium het almal geglo dit help as jy ‘n ketting aan die kar vasmaak wat sleep, dink dit moes die energievelde neutraliseer of so iets. Siende dat ons in die Vrystaat gereeld op die vreeslikste sinkplaatpaaie
moes ry en niks oorgekom het nie, was die” karsiek” heelwaarskynlik eerder voedselvergiftiging van die vleis in ‘n koekblik in die hitte van die Karoo. Dit was darem mos voor die tyd van koelsakke en Tupperwarebakkies.
Die motorhawens
langs die pad het ook nie kos verkoop nie, en gewoonlik ook maar beperkte toiletgeriewe gehad – veldties was dus maar jou voorland! Dit was lank voor die tyd van Totalsentrums en Ultra Cities. Hier en daar was daar darem ‘n kafee,
soos op Britstown, waar mens lekker tee kon drink en ‘n botterbroodjie eet.
Met kinders is dat maar beter om te sorg dat daar altyd iets in die kar is om aan te knaag – myne wou gewoonik al begin eet as ons hier by die Fonteine trek, so
drie kilometer van die huis af.