Die Anglikaanse Kerk het `n eeu-oue tradisie van koorsang, en elke katedraal bied laatmiddag ‘n sangdiens, Evensong aan, wanneer die katedraalkoor optree en mens die orrel ook kan hoor. Besoek die katedraal gedurende die middag
en bly dan sommer vir Evensong.
By St Pauls was ek verlede jaar gelukkig om reg langs die koor te sit. Voor die diens begin word al die ligte in die katedraal gedoof, behalwe die regop
lampies by die koor se sitplekke. Skielik begin die koor dan a capella in die romp van die katedraal sing. Die metaalagtige klank van die seunsstemme in die leë katedraal is hoendervleis mooi.
Evensong
is vir my een van die hoogtepunte van my besoeke aan Engeland en wat meer is, dis alles gratis. Maak net seker dat dit nie skoolvakansie is wanneer jy Brittanje besoek nie want dan tree die katedrale se eie kore nie op nie.