Die lekkerste viskoekiefloppastei!
Isse feit dat iemand wat reeds vir n-jare in die kombuis doenig is en nog steeds nie ordentlike viskoekies (en frikadelle) kan maak nie, ‘n hopelose kok is! En nie dat ek nie probeer het nie. Gelukkig is my arme huisgesin
al deur die jare geskool om nie te veel op viskoekiegebied te verwag nie. Hier is ek darem nou ook nie alleen nie, hoor. Karin, my vriendin, se seun het eendag doodernstig vir sy juffrou vertel dat sy ma die heel lekkerste flops op aarde maak.
Kan eerlik sê dat ek al al wat ‘n resep is probeer het - as die resep sê bind dit met hawermout, of eier, of broodkrummels, of fyn aartappel, of meel, wees verseker, ek het dit al probeer, ook in kombinasies. Maar sodra
ek dit probeer bak, bars dit uitmekaar en word dit tjou-tjou, oftewel moerby soos die kinders dit noem.
Het dit selfs al ure voor die tyd gemaak, in meel gerol, en ‘n ruk lank in die yskas laat rus, maar nyet, niks werk nie – as
dit die pan slaan val dit uitmekaar.
Vriendinne se ma’s het hulle al oor my ontferm en demonstrasies gehou, maar mhh hmm – dit werk nie vir my nie. Renée se ma (die viskoekiekoningin van die Wes-Kus) het al probeer,
en Karin se ma het toentertyd al gewys hoe om koolfrikadelle te maak. Maar alles tevergeefs…
Een van my nuwejaarsvoornemens was toe om hierdie jaar, 2014, die moedige stryd te stry om voor die jaareind
kampioen viskoekies en frikadelle te kan maak.
Vanmiddag was toe nou die eerste poging van die jaar. Met my chefhoed op die kop wat ek nogals by Rueben Riffel gekoop het vir inspirasie, was ek reg vir die ding!
Eers uie
fyn gekap en gebraai en fyn aartappels gemaak. Twee blikke sardyne gedokter met fyn aartappel, ‘n eier, en twee snye brood. Toe nog ‘n blik tuna bygevoeg, want dit wil steeds nie bind nie. So pap, dit kan nie eers koekies
vorm nie.
Die goed soo gekyk en toe besluit, nee wat skep in ‘n bak , sit aartappel bo-op en verander in viskoekiefloppastei. Mens ken tog mos maar jou beperkinge.