Lord Kitchener
Almal wat in die vroëe sestigerjare op `n klein Vrystaatse dorpie groot geword het, sal weet dat die Engelse Oorlog op daardie stadium nog sommer vars in die geheue van die Vrystaters was. Daar was heelwat oorlewendes oor in die gemeenskap
wat as penkoppe in die oorlog geveg het, asook bejaardes wat as kind die verskrikking van die konsentrasiekampe deurgemaak het. En met ‘n ouma wie se huis afgebrand is, het ons as kinders stories oor die oorlog en kakies soos Lord Kitchener en
die Rooivers Bul, Sir Redvers Buller, lettterlik met ons moedersmelk ingekry. Ek vind dit dus baie interessant wanneer raakpunte in ons geskiedenis met dié van die Britte op toer opduik.
So het dit my nogal geruk om in die St
Pauls-katedraal `n gedenkteken vir Kitchener raak te loop. Die skip waarop hy gestasioneer was, is gedurende die Eerste Wêreld Oorlog gekelder en hy het verdrink – sy lyk is nooit gevind nie. Laat mens wonder of hy, toe hy so in
die donker dieptes afdaal en sy lewe voor hom verby sien flits, darem ‘n bietjie skuldig gevoel het?
Verlede jaar weer, in Winchester-katedraal, kom ek op `n gedenkteken vir Sir Redvers Buller, einste die Rooivers Bul, af. Die inskripsie
op die marmer sarkofaag lui: A great leader – beloved of his men. Mmm.
Ons ouma was nie 'n katjie wat jy sonder handskoene aangepak het nie, hoor! Nadat haar man in die oorlog oorlede is en haar huis
afgebrand is, het sy net besluit dat sy NIE na 'n konsentrasiekamp gestuur gaan word nie, en vir meer as twee jaar in die Oos-Vrystaat se gure weer (winter en somer), met haar kinders rondgevlug voor die kakielinies uit. Sy is nooit gevang nie, en nodeloos
om te sê, al haar kinders het die oorlog oorlewe.
EN na die oorlog toe trou sy met 'n Engelsman, weliswaar 'n makgemaakte een wat as Vrystaatse burger aan die kant van die boere geveg het.
En ek is so gelukkig om haar name te
dra.