Die parlementshuis met Big Ben. Sommer met my selfoon genaam
Vir almal wat lief is vir sepies, vergeet van Dallas en Sewende Laan en Days of our lives, en volg liewer die Britse politiek - dis net so absurd en onderhoudend,
maar ten minste lewensgetrou want jy sien dit voor jou gebeur.
Kyk ‘n bietjie op ‘n Woensdagmiddag hier teen etenstyd op Skynews na PMQS, oftewel Prime Minister’s Questions.
Die nuusdiens skakel dan direk oor na die Britse House of Commons, die moeder van alle parlemente, waar die leier van die opposisie en die agterbankers, dan die kans kry om die Britse premier te ondervra oor sake van die dag. Hier word
daar nie doekies omgedraai nie – die manne pak mekaar behoorlik. Dit lawaai soms so dat die arme David Cameron homself nie kan hoor dink nie. Kyk ook op Youtube hoe mense soos Margaret Thatcher dit hanteer het.
PMQS
was vir my so interessant dat ek met alle mag en geweld dit self wou bywoon. ‘n Mens kan op ‘n begeleide toer deur die parlementsgebou gaan op Saterdae en gedurende die parlementêre reses, maar as jy sorg dat jy vroeg op ‘n Woensdag
aanmeld wanneer die parlement in sitting is, laat hulle jou ook toe om te wag in die voorportaal van die huis indien daar ‘n plekkie op die besoekersgalery sou oopgaan. As die Britte self nie al die plekke op die galery vul nie, laat hulle ook buitelanders
daar toe. Vir ander debatte, ook in die House of Lords, kry mens egter makliker toegang.
PMQS is gratis teater. Die hoofkarakters is premier, David Cameron, en die leier van die opposisie,
Ed Miliband.
‘n Paar jaar gelede toe ek so gelukkig was om PMQS te kon bywoon, het iemand vir David Cameron ‘n vraag gevra oor die naionale gesondheidsstelsel, die NHS. Cameron haal toe uit ‘n dokument
aan wat deur ‘n gewese opposisielid, ‘n mediese dokter, geskryf is. ‘n Vroulike lid van die opposisie, het toe ernstig kapsie gemaak en so ‘n tekere gegaan dat Cameron ‘n grappie probeer maak het en vir haar in sy beste bed-side
manner stem sê: Calm down dear, listen to the doctor. Dit moes hy nie gedoen het nie, want die opposisie en pers het letterlik soos ‘n klomp raptors uit Jurassic Park op hom toegesak
omdat hy dit durf waag het om so seksisties op te tree deur die dame “dear” te noem.
Die bohaai is aangeblaas deur die oer-moeder van die opposisie belas met polities korrektheid, Harriet Harman, oftewel Harriet
Harperson, soos haar teenstaanders haar dus noem. Berig op berig is geskryf in die koerante en besprekingsprogramme op die radio en TV aangebied oor Cameron se sogenaamde seksisme.
Waar kry ‘n mens dan nou ‘n beter voorbeeld
van die teater van die absurde?
Onlangs weer, skryf Michael Gove, die minister van opvoeding soos volg oor Ed Miliband in die Daily Mail: “Ed Miliband is a blancmange in a hurricane” en oor
die opposisie : “With less than two years before the general election, the Opposition has so little of weight to say that it makes a hole in the air seem substantial”. Eina. Kan nie wag vir die volgende PMQS
nie.