Hazenjacht toe...

Oupa se huis teen die heuwel

Eindbestemming Hazenjacht - Oupa se huis teen die heuwel tussen De Rust en Oudtshoorn.

 

 

Die ’53 Studebaker is barstens toe volgepak

Met vier kinders, Aia Liesbet

en ‘n brak;

ook bo-op die dak

‘n windskepper van ‘n rak.

Stadig, sukkelend teen bulte op,

Vinnig, in neutraal teen heuwels af

ry ons met goewermentspetrol (soos ouma Dednam sou sê)

Laat in die middag

Na die daglange verswelgende hitte

van die Karoo

Kom die Koup se heuweltjies:

Op-en-af slap links,

Op-en-af slap regs,

Op-en-af reguit aan …

Genoeg om karsiek van te word.

Dan verskyn in die verte

‘n  berg wat lyk soos ‘n sny

uit ‘n reuse koek,

plat op een sy,

neergeplak langs die pad.

Groen doringbome daag sporadies op

om die sigsveld in te neem,

Met die soel aroma van hul geel bloeisels

Wat die motor vul.

Langs ‘n kronkelende klaarstroompie

Wurm die smalle klipstapelpaadjie

deur klowe en skeure,

Om elke hoekie en draaitjie

Oor laagwaterbruggies

Met koel, skaduryke stilhouplekke

Verby Herrie se klip.

Hoog, ontsaglik hoog,

toring reuse kranse weerskante

Met verbysterend gerimpelde rotsformasies,

Stille getuies van milleniums se stuwende stootkrag en erosie.

By ‘n driffie aan ‘n waterval

Word eers stilgehou

Vir die lafenis van ysige bergwater,

Om gesig en hande te was,

hare te kam,

om darem presentabel te lyk

wanneer ons op Hazenjacht aankom.

In die uitgang van die Poort

pronk klein groen lappieslandjies,

Omkamp deur lamlendige draadheinings

aan skewe kromhoutpale.

Groot opwinding oor die eerste volstruise

Gesien nog voor die vaal gehuggie van De Rust.

Verby baksteenrooi bergbastionne

En witmuur grasdakhuisies

Tot by Oom Andries se wit paleis,

 Al langs ‘n klipperige stofpad,

in laagste rat vir die steil, verspoelde afdraai,

Teenaan die eerste wingerde,

verby ‘n bekslaner en ‘n motorhek

Al kronkelend na die wit volstruishuis

Met die rooi dak en torinkies

By Oupa-hulle

Tuis.

 

Stephan Lategan, Kaapstad  22 Jan 2013

©

 

 

Hazenjacht en sy mense

"Struisvogels" soos die ou mense hulle genoem het - verantwoordelik vir baie welvaart en net soveel ellende

Hoog geleë, as baken teen die berghang

staan Hazenjacht se paleis,

uit ‘n tyd van voorspoed

en oorvloed;

gebaseer  op ‘n veer

wat welvaart bring. 

 

‘n Dak met torinkies

in wit en rooi,

stoeptraliewerk  in ‘n halfmaan  om die huis,

met verandas gedrapeer in fyn wit broekielace

gesuspendeer soos stalagtiete;

die siervensters met oopslaanluike

vir  skuiling teen die somerhitte.

‘n Dramatiese breë ingang van

steil  trappe omflank in gemesselde muurtjies

 wat oploop in ‘n veelkleurige fokuspunt,

die blokkiesruit voordeur.

Daaromheen, hoog teen die muur gemonteer

die koppe en horingtrofeë van vervloeë jagtogte;

ironies genoeg die plek

waar  ‘n mens ook later vermoor is.

 

Langsaan, op die stoep, wakend oor die werf

rook Oupa aan sy kromsteelpyp,

wiegend op ‘n stinkhout skommelstoel

vanwaar hy die hele plaas beskou

en  die voëls in hulle kamp kan dophou.

 

’n Hoë houttrap aan die agterkant lei na die solder

met sakke geurige twak-en rooibosblare,

ou losgoed, leesgoed en trommels met geheimenisse

bewaar uit ander tye,  paradys vir ‘n speurende kind

wat snuffel om ou skatte te vind.

‘n  gewese bergplek vir die uitsoekvere.

 

Die verekamer op die stoep,

met vyftig jaar se tydskrifte   

eers  vir wandelende Joodse verekopers

is nou slaapplek  vir kinders en kindskinders.

 

In die  buitekamer, waar ons geslaap het,

blink ‘n  geelkoper- en wit emaljeraambed,

met draaiende porseleintolletjies, ‘n bonte lappieskombers

geblomde kom, bypassende beker, slopemmer

en ‘n jongmanskas.

‘n  Bruin erdekruik, fyn geperforeer om koel te maak,

 sorg buite vir water, metaalagtig in smaak

gesluk uit ‘n aluminiumbeker.

 

Somershitte bring rus en lomerigheid.

In die middagstilte hoor mens slegs

die  effense geruis

van die windlaaier

en die sagte gesuis

 van palmboomblare

langs die huis.

 

Uit die  witgeteëlde sitkamertjie,

 in swaar Eduardiaanse gordyne gedrapeer,

met uitgeboude vensters en ‘n wit sierrottangstel,

weerklink klavierklanke omskep in orrelmusiek

uit die klavierharmonium  belig met fynbesnede oopvoulampies

van glas en koper.

 

Die plaastelefoon hang

hoog op in die gang

met ‘n los oorstuk en slinger om die aandag te vang:

twee kortes en ‘n lange.

Langs boeregeneraals, presidente

en premiers is kleurryke blomprente

Met die vraag:

“wat is ‘n huis sonder ‘n moeder”.

 

Uit die gesellige spens, met sy lae stinkhoutstoeltjies

kom lekker druiwekorrelkonfyt met plaasbrood en botter,

by swart koffie of pienk tee

en growwe boerbeskuit.

In die eetkamer, die kuierplek,

waar  ure en kwartiere in tik-tak afgemeet word

skyn die lig van ‘n sierkoperlamp saans,

glinsterend in ‘n waterval

trane van geslypte  kristal

wat blink op voorgeslagte se gesigte

teen die muur.

 

Dan  vergader almal om die massiewe  geelhouttafel,

die pluiskleedjie netjies teruggevou vir aandete,

en bid Oupa saggies, prewelend eerbiedig:

Zegen, Vader, hetgeen wij eten.

Laten wij nimmer U vergeten.

Amen.

 

Stephan Lategan, Kaapstad, 30 Mei 2013.

©

Oupa

Write a new comment: (Click here)

SimpleSite.com
Characters left: 160
DONE Sending...
See all comments

| Reply

Latest comments

30.08 | 12:44

It seems really a nice sharing due to its informative stuff which I will share with my dad after my https://www.goldenbustours.com/seattle-tour-packages/

...
06.05 | 19:10

...
05.05 | 20:47

Het baie geniet. Dankie.Tuinmaak my passie. Meestal onbekende musiek vir my, maar pragtig.

...
07.04 | 20:46

Hi Nalene, watter datums het jy 'n probleem mee. Dié van Dr Nel van Heerden? Madelie

...
You liked this page