Iemand moet tog eendag ‘n tesis doen oor die oorgang tussen die ou en die nuwe staatsdiens na 1994. In die department waar ek destyds werksaam was, was dit nogal traumaties om van geliefde senior personeellede wat vervang is met nuwes, afstand
te doen, maar gewone staatsamptenare – oues en inkomendes, het nogal van die begin af besonder goed klaargekom en gou blywende vriendskappe gesluit.
Toe ons department ‘n nuwe hoof kry, het sy reputasie hom ver vooruit geloop -
hiper-briljant en hiper- bedonderd! Hoof van ‘n NGO, eks-Wits-professor, eks-Rhodes student op Oxford, eks- SR Voorsitter van Wits, eks-nasionale president van NUSAS in die sestigs, en op ‘n stadium hoog op die radar van die Veiligheidspolisie.
En toe die man die dag instap, lewer hy ‘n toespraak in sulke hogere Engels dat mens plek-plek ‘n woordeboek nodig gehad het om dit te ontsyfer – onthou veral die uitdrukking “apropos” . My dood gesoek in die woordeboek
na die betekenis daarvan he he!
En daar gebeur dit toe, die uwe word aangesê om al die nuwe man se eksterne hoëvlak vergaderings te rëel en die ergste van alles, die notules af te neem. In my Vrystaatse Engels?
Daardie dag was die naaste wat ek ooit aan bedank gekom het in die staatsdiens, maar toe soos so baie keer al in my lewe as dit swaar gegaan het, skop ouma Malie in. Sou dit moeiliker wees om notules in Engels af te neem as om voor die Kakies uit
te vlug? Geen vergelyking nie!
EN soos dit nou maar gaan en soos die lewe geneig is om homself uit te sorteer, kom die uwe en die man toe baie goed oor die weg en sou ek op die ou einde ontsettend baie by hom leer, dinge soos om nooit iets sommer
op sigwaarde te aanvaar nie, maar eers vir jouself uit te redeneer of dit sin maak. Hy het maar altyd in sy hart ‘n prof gebly. Ek dink darem die feit dat ek en my boetie in ons prille jeug ‘n gesonde kwota PG Wodehouse-boeke verslind
het, en mekaar met aanhalings daaruit “gegooi” het, iets daarmee te doen gehad het. Het die man se humorsin verstaan, en hy myne, so onmoontlik soos dit ook al klink.
Hy het eendag laat blyk dat die uwe die eerste Afrikaanse persoon
was met wie hy regtig sommer gesit en gesels het – en hy was destyds al oor die vyftig en het in Johannesburg opgegroei. Snaakse land hierdie, nê?
In elk geval, hy kon skoon liries raak wanneer hy oor sy studentejare op Oxford uitgewei
het – Christ Church, die “Meadows”, die formele etery met togas aan, die Oxford-Cambridge Boatrace, “punting” op die rivier, die Christ Church katedraalkoor (snaaks want die man was Joods), die manier van onderrig op Oxford wat
totaal van die Suid-Afrikaanse manier verskil, ens. Toe ek dus uiteindelik die dag Oxford kon besoek, het alles alreeds so vaagweg bekend gelyk.
Brug in Oxford