Vra enige goudmynwerker watse werk hy doen en hy antwoord heel waarskynlik met iets soos “Ek grawe gat vir goud”. Maar oor die ongelooflike gevaarlike werk wat hulle doen onder die moeilikste omstandighede denkbaar, rep hulle
gewoonlik nie ‘n woord nie.
Ongelukkig bestaan daar die persepsie, (gewoonlik in die dele van die land waar mynbou nie groot is nie), dat ‘n mynwerker ‘n man is met ‘n mullet, goue ketting om die nek, ‘n klippies en coke
in die hand terwyl hy na oorverdowende musiek luister in sy “opgehotte doublecab” bakkie met ‘n “moerse bullbar “ - ‘n manlike chauvinis by uitstek. Die werklikheid kan egter nie verder hiervan wees nie!
Dis eers as jy self met mense in die beroep te doen kry dat jy besef hoeveel uitsonderlike mense daar onder hulle is. Mense wat regtig vir hulle medemens omgee, omdat hulle weet wat swaarwerk en swaarkry beteken. Die groot mense met die sagte
harte.
‘n Vorige baas van my het byvoorbeeld toe een van ons kollegas na ‘n uiters moeilike egskeiding finansiëel baie swaar gekry het, vir my ‘n paar honderd Rand in die hand gestop en voorgestel dat ons maak of ons
‘n lotery het vir Kersfees – en almal koop dan kastig ‘n kaartjie vir R2.00, sy ook. Ek moes toe met al die geld ‘n heerlike kerspakkie saamstel met sjampanje, geblikte ham, sjokolade vir die kinders en so aan – ‘n
regte “bederf” pakkie en dan sorg dat sy die “lotery” wen. Haar gesig toe sy die pakkie oopmaak, was die beste kersgeskenk ooit! Van die ander myners neem elke dag vir die muise onder in die myn wat saam met die houtpakke
inkom, ‘n broodjie. Dit is ook verstommend hoeveel myners graag kosmaak – baie van hulle doen dan ook die meeste van die kookwerk in die huisgesin.
Min mense besef ook dat mynwese een van die oudste beroepe in die wêreld is.
Kyk bietjie na Tutankhamun se doodsmasker. Volgens argeoloë oor die 3000 jaar oud. Iemand moes toe al gouddraende erts kon eien, ‘n proses ontwikkel het om die goudpartikels daaruit te onttrek, te smelt, te verfyn om hierdie uiters hoë
kwaliteit goudartikels te kon vervaardig het. En let ‘n bietjie op die renostertjie – meer as ‘n duisend jaar oud en op Mapungubwe heuwel in Limpopo uitgegrawe. Dieselfde ingewikkelde mynprosesse moes toe al hier in bedryf gewees
het om hierdie kwaliteit goue artikel te kon maak.